Local newsNews

Dameskringlid tot provinsie se bestuur verkies

Een van die Dameskring in Modimolle se staatmakerlede, Susan Le Roux, is tydens die organisasie se tweejaarlikse beraad as lid van Limpopo se uitvoerende bestuur vir 2019-2020 verkies.

Le Roux is ’n orrelis en betrokke by die Nylstroom-musieksentrum.

Die uitvoerende bestuur van die Dameskring skakel met ander Afrikaanse kultuurorganisasies, asook die Associated Country Women of the World. Hulle neem onder meer deel aan die Wêreldbiddag vir Vroue en nasionale Vrouedag-vieringe.

Die tema van die 2018-beraad was “Vreesloos Vrou”.

Die sprekers tydens dié geleentheid was die politieke ontleder prof. André Duvenhage en die bekende sielkundige, dr. Pieter van Jaarsveld.

Die 2020-beraad word in Port Elizabeth gehou en die Modimolle-tak beplan om voltallig daar te wees.

Die Dameskring is ’n nie-winsgewende organisasie met ongeveer 800 lede.

Die vroue fokus daarop om deur gemeenskapsprojekte vroue toe te rus om in die gemeenskap ’n verskil te maak. Takvergaderings is nie slegs gesellige samesyn nie, maar klem word geplaas op bemagtiging, persoonlike groei en uitreiking na die gemeenskap.

Die Dameskring ondersteun ’n nasionale beursfondsprojek en die “Waardes vir Woelwaters” is ’n werksessie wat gereeld landwyd aangebied word.

Vir meer inligting, bel vir Alita Rose by tel. 082 552 8049.

Related Articles

Back to top button