Local newsNews

Uitdagings in landboubedryf met boere bespreek

Die boere-gemeenskap kry geen dienste nie en dan is die belasting wat hulle betaal skoon wins vir die munisipaliteite.

Boere in die Doornfontein-omgewing het verlede week vergader om te luister na hoe Henk van de Graaf, voorsitter van die Noordstreek van Transvaalse Landbou Unie (TLU) SA, Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, en Wiets Botes, voorsitter van die Waterberg-sakekamer, die huidige stand van sake in die land sien.

Volgens Kobus Nel, wat die vergadering saamgeroep het, ervaar landbouers groot onsekerheid oor sake wat hul toekoms en voortbestaan bedreig. Die vergadering het op Donderdag 21 Februarie by die Doorn-fontein-feesterrein plaasgevind en is deur sowat 30 mense bygewoon.

Van de Graaf het te velde getrek teen belasting wat boere aan munisipaliteite moet betaal. Volgens hom kry hulle geen dienste nie en is die belasting wat hulle betaal, skoon wins vir die munisipaliteite. “Boere is gelukkig nie afhanklik van water- en elektrisiteitsverskaffing deur die munisipaliteite nie,” het hy gesê.

“Boere se geld is goed genoeg om vir belasting te gebruik, maar plaaslike regerings is laks om die paaie waarop hulle moet ry, te onderhou. Kopers wat produkte by plase kom oplaai, hef reeds fooie vir die skade wat hul voertuie op die swak paaie ly en die landbouer se uitgawes raak al hoër. Daar sal ’n tyd kom dat boere nie meer kán betaal nie,” het hy gesê.

Volgens De Graaf het die waarde van plase met soveel as ’n derde geval sedert die grondonteieningskwessie ontstaan het. “Boere moet seker maak dat hul grond se waardes op die waardasierolle betwis word indien dit nie korrek is nie,” het hy gesê.

De Graaf het ook sy kommer oor die onteieningswet uitgespreek wat moontlik nie net ’n minister die mag kan gee om grond te onteien nie, maar selfs ’n munisipale bestuurder. Hoewel eienaars vergoed moet word, kan pryse volgens hom verlaag word met behulp van die waardeerder-generaal. Hy het bygevoeg dat die inwerkingstelling van die wysiging van die grondwet nog ver is. Hy het ook inligting verskaf oor die arbeidsituasie, meganisering en die TLU se beoogde landbou-akademie.

Volgens Van Staden wissel die belasting wat op plase gehef word tussen R50 tot R100. “Dit is ’n kwart van residensiële belasting en die munisipaliteit gee nog 40% rabat,” het sy gesê. Sy het gesê die styging van eiendomsbelasting is inflasieverwant. “Die geïntegreerde ontwikkelingsplan is ’n openbare deelnameproses waartydens die begroting goedgekeur word.” Inwoners kan daar hul menings lug.

“Die nuwe waardasierol word tans opgestel en inwoners moet hulself vergewis dat hul eiendomme se waardes korrek is. Dit is beskikbaar vanaf Vrydag 1 Maart tot Dinsdag 30 April vanjaar,” het sy gesê.

Sy het ook die munisipaliteit se agterstallige skuld aan Eskom bespreek. “Ons probeer die probleem oplos. Ek glo egter dat ’n hof die skuld sal moet afskryf of dat die nasionale of provinsiale regering die skuld sal moet delg — die munisipaliteit sal nooit self in ’n posisie wees om dit te doen nie.”

Van Staden het ook oor die watertekorte in die dorp gepraat. Sy het die verskillende rolle van die nasionale regering en die plaaslike regering verduidelik. “Munisipaliteite kan nie waterbronne verskaf nie. Hulle is slegs verantwoordelik vir die onderhoud en interne verspreiding van water vanaf sulke bronne,” het sy gesê.

Wiets Botes, voorsitter van die Waterberg-sakekamer, het boere genooi om aan te sluit by die sakekamer en sakeliga aangesien sakelui almal voor dieselfde uitdagings staan. Hy het gesê politici moenie die blaam rondskuif nie, maar eerder die probleem moet oplos. Hy het mense aangemoedig om na alternatiewe bronne van elektrisiteit te kyk om die uitwerking van kragonderbrekings op hul boerderye te verlaag.

“Dit is belangrik dat almal hul munisipale belasting betaal. Boere gebruik ook dorpe se paaie en doen aankope by hul naaste sentrums. Maak seker dat die rekeninge korrek is,” het hy gesê.

“Die munisipaliteit moet verantwoordelik gehou word. Die skuldinvordering sukkel om nou 50% te haal, teenoor ’n invorderingspersentasie van 73% in 2016,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button