Local newsNews

Weldoener beloon vrou met R500 nadat sy verlore sleutels optel

Angelina Leso (59) van Mookgophong was heel in haar noppies toe sy ’n stywe R500 as beloning vir haar goeie daad ontvang het.

Dié huiswerker was op Donderdag 7 Februarie ná werk op pad huis toe, toe sy ’n bos sleutels in 7de Straat opgetel het. Volgens Leso het sy dadelik besef dat iemand dit verloor het en het sy in die straat rondgekyk of sy nie dalk die persoon wat dit verloor het, opmerk nie.

Sy het dit toe maar saam met haar geneem en haar werkgewer se man geskakel. Sy het die volgende dag die sleutels na haar werkgewer, Annalize Britz, geneem. Intussen het die inwoner wat die sleutels verloor het, ’n versoek op sosiale media geplaas dat iemand wat iets weet van die sleutels, hom kontak. Britz het die plasing gelees en twee en twee bymekaar gesit en so is die eienaar van die sleutels opgespoor. Hy verkies dat sy naam nie in die koerant genoem word nie.

Die man was so dankbaar dat hy die sleutels teruggevind het, dat hy dadelik besluit het om Leso te beloon vir haar goeie daad. “Ek sou ’n slotmaker baie moes betaal om my kluis oop te kry,” het hy aan Die Pos gesê.

Leso werk al nege jaar by Britz en het in Desember 2018 haar man aan die dood afgestaan. Sy het twee pleegdogters en een van haar eie wat sy versorg. “Ek is baie bly oor die beloning,” het sy laggend gesê.

Related Articles

Back to top button