Local newsNews

Hoërskool Warmbad se kosengel weet van swaarky

Want hoe meer sy die Here se hande en voete geword het, hoe groter die wonderwerke in haar uitreikprojekte, maar ook in haar eie lewe.

Twee groot potte, elk toegewikkel in ’n Wonderbag van blou Afrika shweshwe-materiaal, word die eetsaal binnegedra.

Die potte vrolik sommer die koshuistafel op. En dan word daar ’n groot, vet bottel met die heerlikste ingelegde beetslaai langs die potte neergesit.

Die allerwonderlikste geure vul die eetsaal en teen die tyd dat ek met Rika Kruger van Bela-Bela handskud, het haar potte en tuisgemaakte beetslaai eintlik klaar haar storie vertel.

Die storie van ’n vrou wat as kind self die lewe se donker kant geken het. Die storie van die langbeenmeisietjie wat tien jaar in ’n kinderhuis deurgebring het. ’n Plek waar ’n mens in haar eie woorde “twee stelle klere, kos en ’n bed gekry het en verder jou pad in die lewe moes oopbaklei”.

Maar dit was nie baklei wat die harde kant van dié besondere vrou uitgebring het nie. Eerder die teenoorgestelde. ’n Begrip is gekweek vir kindwees, vir swaarkry en vir honger wees — of daardie honger nou geestelik of fisiek is.

“Elke mens se pad is mos maar vir hom uitgelê,” vertel Kruger.

Daarom was dit eintlik ’n voorsienigheid dat sy uiteindelik die portefeulje van sosiale ontwikkeling in die provinsiale parlement in Gauteng ontvang het nadat sy in 1999 in die politiek betrokke geraak het. Eers net as wyksraadslid en vier jaar later in dié parlement.

Dit was in hierdie tyd dat sy die grootste armoede onder alle bevolkingsgroepe teëgekom het. Dié raakvatvrou, voorste kok en strateeg, het baie vinnig besef dat politiek nie hierdie mense wat oor haar pad gestuur is, se honger gaan stil nie.

Toe maak sy self ’n plan.

Sy het kruideniersware by sakeondernemings, individue, kerke en organisasies begin “bedel” en sopkombuise in die armste gedeeltes in haar kiesafdeling begin. In Hammanskraal het sy onder meer weekliks ’n ete aan meer as 400 kinders voorsien. Hierdie kos het sy in haar eie tyd, in haar eie plaaskombuis in Rust de Winter met “afgebedelde” bestanddele berei. Sy het tientalle sulke sopkombuise tot stand gebring en oor Kersfees honderde Kerspakkies opgemaak.

Sy het duisende wonderwerkstories om te vertel, want hoe meer sy die Here se hande en voete geword het, hoe groter die wonderwerke in haar uitreikprojekte, maar ook in haar eie lewe.
In 2017 het sy in Bela-Bela afgetree, maar toe die pastoor in haar gemeente een oggend afgekondig het dat die plaaslike hoërskool mense nodig het om te help met ’n sopkombuis, was sy voor in die ry.

En nou kook sy drie keer per week vir 34 leerders van Hoërskool Warmbad kos. Dit maak nie saak watter skenkings sy kry nie, sy omtower dit in haar kombuis tot ’n watertandgereg.

Die skenkings is egter soms boomskraap. Dan betaal sy nog self vir die gas en elektrisiteit by haar huis. En sy gebruik haar eie kookgerei.

Ek loer in die pot op die tafel. Tamatie- en uiebredie met gesnyde rooiworsies. Want, vertel Kruger, daar is nie tans vleis om mee te kook nie.

Daar is reeds mense wat skenking gee en daarvoor is die skool en Kruger ongelooflik dankbaar, maar die behoefte is groot en dit is moeilik as die koskaste dolleeg is. “’n Mens kan mos nie vir ’n honger kind sê vandag is hier niks nie.”

Die kinders eet op Maandae, Woensdae en Vrydae in die koshuis se eetsaal en soms is dit hul enigste gekookte ete vir die week. “Ek kan hulle nie die deur wys nie, maar soms is dit moeilik, want ek kan ook nie die projek self finansier nie,” vertel Kruger.

Om die skool se voedselprojek aan die gang te hou, word die volgende dringend benodig:

  • ’n Vrieskas.
  • Enige soort of snit vleis. Sy gebruik ongeveer 9 kg vleis per week.
  • Mieliemeel, rys en macaroni
  • Blikkieskos (mielies, tamatiesmoor, sardientjies ensovoorts).
  • Enige groente of slaaibestanddele.
  • Eiers en kaas.
  • Mense wat soms kan uithelp met die kokery of bediening.

Vir meer inligting oor Hoërskool Warmbad se voedselprojek of vir skenkings, bel vir Jeanne Bekker, onderwyseres en projek-koördineerder, smiddae by tel. 082 614 6026.

Skenking kan ook by die skool se kantoor afgelewer word of by Die Pos-koerant se kantoor in Bela-Bela.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button