Local newsNews

Kunstenaar van Phagameng se kunswerk pryk op Times Magazine se voorblad

“Ek wy my lewe toe aan alledaagse drome en avonture. Baie mense moet die reën, pyn en moeilike tye trotseer om te oorleef en hulle hou aan met worstel totdat hulle die hoogste punt bereik. Ek het hieruit geleer. ”

’n Gebore Waterberger se uitsonderlike kunstalent wat hy gebruik om die jong kinders van die Suid-Afrikaanse platteland op skilderdoek vas te vang, se werk is in die internasionale kalklig nadat dit op die voorblad van die Amerikaanse nuustydskrif Times Magazine gepubliseer is.

Nelson Makamo. Foto: Facebook

 

Die 37-jarige Nelson Makamo is in Modimolle gebore en getoë. Reeds hier op die platteland het die onskuld van die jong kinders hom aangegryp en tot kuns gedryf. Volgens sy webwerf was sy besondere talent van vroeg reeds duidelik. Nadat hy aan Modimolle High School gematrikuleer het, het hy sy vaardigheid drie jaar lank by Artist Proof Studios in Johannesburg geslyp.

In dié tyd het hy ’n beurs van Johnson & Johnson Internasionaal ontvang, sowel as die Pinpoint One Human Resources-beurs. Hy het sy eerste eenmanuitstalling in 2005 in Johannesburg gehou en in 2007 het sy eerste internasionale uitstalling in Somma Lombardo in Italië gevolg. Hy het die volgende jaar ook in Amsterdam in Nederland uitgestal.

Hy woon steeds in Johannesburg en word as een van die land se heel suksesvolste kunstenaars gereken wanneer dit by verkope kom.

Time Magazine het verlede week hul voorblad vir hul 2019 “Optimisme-uitgawe” bekend gestel met Makamo se werk “Visions of a limitless future” wat op die voorblad pryk. Dié kleurryke skets van ’n jong kind met ’n rooi bril is tipies van sy werk.

Sy kuns pryk reeds teen die mure van bekendes soos stylikoon Georgio Armani, sanger Annie Lennox en fliekregisseur Ava Duvenay. Dit is juis Duvenay wat die gasredakteur van die Optimisme-uitgawe van Time Magazine was, wat besluit het om sy werk te gebruik.

Makamo skryf op sy webwerf:

“Ek wy my lewe toe aan alledaagse drome en avonture. Baie mense moet die reën, pyn en moeilike tye trotseer om te oorleef en hulle hou aan met worstel totdat hulle die hoogste punt bereik. Ek het hieruit geleer. Ek is baie geheg aan my ouer familielede, want hulle beïnvloed my op baie maniere. Ek skilder, want om ’n kunstenaar te wees is nie ’n keuse nie, maar gawe,” het Makamo gesê.

Related Articles

Back to top button