Local newsNews

Lindie Marx verruil Bela-Bela vir Saldanhabaai

Kol. Lindie Marx, jarelank ’n bekende gesig by die Bela-Bela-polisiestasie, tree amptelik op Vrydag 15 Februarie uit as stasiebevel-voerder nadat sy ’n nuwe pos in die Wes-Kaap aanvaar het.

Marx was jare lank by die stasie betrokke en was sedert 2015 stasiebevelvoerder.

“Ek is hartseer om weg te gaan, maar ek moet afskaal weens my gesondheid,” het sy tydens ’n spesiale geleentheid by die Waterberg Distrikslandbou-unie (WDLU) se eerste vergadering van die jaar op Dinsdag 12 Februarie gesê.

Marx is verplaas na Vredenburg in die Wes-Kaap waar sy as adjunkstreekbevelvoerder sal optree. Saldanhabaai sal haar tuisdorp wees.

Sy beplan om vir nog drie jaar in die polisiediens te wees. Marx is reeds die afgelope 32 jaar ’n polisievrou in murg en been.

“Ek gaan Bela-Bela en sy mense veral baie mis, want ons is saam deur goeie en slegte tye, maar ek het die skuif in die Here se hande gelaat.”

Sy spreek die vertroue uit dat inwoners van Bela-Bela en omgewing betrokke sal raak by veiligheid en so ’n verskil sal maak tot die welstand van alle inwoners.

“Ek was net so sterk soos wat my span was. Die omgewing kort nou nuwe bloed om ’n beter toekoms te verseker, want elkeen kan ’n verskil maak,” het sy gesê.

Lt. Kol. Abel Phetla, speurtakhoof, sal intussen die waarnemende stasiebevel-voerder wees totdat die pos geadverteer en gevul word. Kol. Loekie Harmse is die waarnemende streekbevelvoerder by die stasie.

Lede van die WDLU het Marx geloof vir haar bydrae tot die gemeenskap, veral die boeregemeenskap, en het haar voorspoed vir die toekoms toegewens. Marx is van plan om aan die begin van Maart te verhuis.

Related Articles

Back to top button