Local newsNews

Slim kieterkat wys slang by kleuterskool uit

Die lewe in die platteland bring interessante avonture.

Die Pos het verlede week berig oor ’n tierboskat wat leerders van Laerskool Alma by die skool verras het. Vandeesweek het Brakanjan Kleuterskool in Modimolle ’n beurt gekry toe ’n wipneuskobra homself in ’n blombedding tuisgemaak het.

“Die bure se katte beweeg gereeld deur die erf. Dit is juis een van dié katte wat langs die slang bly sit het en dit baie stip dopgehou het wat een van die naskoolkinders se aandag getrek het,” het Dalene Kriel, eienaar van die skool, gesê.

Hy het een van die onderwysers geroep en die hulp van slangvanger Theunis Victor is ingeroep.

“Gelukkig was daar dié middag net drie kinders op die terrein en die slang was in ’n ander deel van die tuin. Theunis het die slang vinnig gevang en ons ’n lesing oor slange gegee,” het sy gesê. “Ons het sommer dadelik al ons beddings oopgesny sodat ons nie weer só verras word nie!” Die kat is ook nou welkom op die skoolterrein.”

Die slang kon vermoedelik van oop erwe of nabygeleë stukke veld vandaan gekom het.

Die Pos het verlede week berig oor Pienie Stavast wat by haar huis in Bosveldsig-aftreeoord deur ’n wipneuskobra gebyt is.

Victor waarsku inwoners om op die uitkyk te wees vir slange in en om die huis. “Hou erwe skoon van tuinafval en bourommel en hou die gras kort. Sorg dat daar nie kos is wat slange lok nie. Voël- en hoenderhokke is ’n groot trekpleister,” het Victor gesê.

Vir probleme met slange, bel vir Victor by tel. 082 823 6910 of LD Pienaar by tel. 072 475 6414.

Related Articles

Back to top button