Local newsNews

Ses Hansie-leerders in ongeluk op Bronne-pad beseer

Dié “sinkplaatgrondpad” is op party plekke baie sanderig en het al tot verskeie ongelukke gelei.

Ses leerders van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong is op Saterdag 9 Februarie erg getraumatiseer en beseer in ’n motorongeluk net buite die dorp.

Die vyf gr. 9-leerders en ’n gr. 10-leerder was klaarblyklik op pad na een van die warmwaterbronne in die omgewing toe die ongeluk ongeveer 2 km buite die dorp op die Constantia-pad plaasgevind het. Dié “sinkplaatgrondpad” is op party plekke baie sanderig en het al tot verskeie ongelukke gelei.

Volgens Hennie Matthee, een van die leerders se pa, het die minderjarige seun wat bestuur het beheer oor die Toyota Auris verloor. Die motor het die pad verlaat en omgeslaan.

Matthee se dogter het ernstige beserings opgedoen. Sy is in die Montana-hospitaal opgeneem met harsingskudding en ’n inwendige besering aan haar lewer. Sy is egter op Maandag 11 Februarie ontslaan en sterk tans tuis aan.

“Die dokter het gesê dat hy ná 10-15 dae sal besluit of dit nodig is om te opereer indien die skeur in haar lewer nie herstel nie,” het Matthee gesê.

Volgens inligting wat anoniem aan Die Pos verskaf is, behoort die motor glo aan die maatskappy waar een van die leerders se ma werk.

Spikkels De Wet, waarnemende hoof van Hoërskool Hans Strijdom, het in reaksie aan Die Pos gesê hy is baie jammer oor die ongeluk. Hy het gevra dat ouers en leerders meer verant-woordelik moet optree. “Ons is net dankbaar dat daar nie erger beserings was nie,” het hy gesê.

Die ander kinders is almal in hospitale in Mokopane en Bela-Bela opgeneem vir minder ernstige beserings en is reeds ontslaan.

Die polisie in Mookgophong kon nie enige verdere inligting oor die aard van die ondersoek aan Die Pos verskaf nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button