Local newsNews

Bekende fotograaf sterf aan hartaanval

Die gerekende persfotograaf Doug Lee, wat die afgelope vier jaar buite Bela-Bela gewoon het, is op Sondag 10 Februarie aan ‘n hartaanval oorlede.

Lee (71) en sy kamera was jare lank in die diens van die koerante Sunday Express, The Citizen en Rapport waar hy lesers ’n blik gegee het op wat agter die skerms tydens nuusgebeure in die stormagtige tagtiger en negentiger jare afgespeel het.

De Wet Potgieter, voorheen joernalis by Sunday Times en Rapport en nou redakteur van die Laevelder, skryf in ’n eerbetoon aan Lee: “Doug Lee, ’n legende uit die dae toe leunstoeljoernalisme nog nie bestaan het nie, is Sondagoggend skielik aan ’n hartaanval dood. Hy was ’n ware deurwinterde koerantman, geensins ’n “glory hunter” wat vir die pawiljoen gespeel het nie, maar iemand wat net daar buite wou wees om die aksie op film vas te lê.

“Doug Lee was nie net ’n fotograaf nie. Hoewel hy nooit self geskryf het nie, het hy menige kere op sy eie die pad gevat en met foto’s, en ’n eksklusiewe storie in sy agterkop teruggekom kantoor toe.

“Die grootste straf wat ’n mens vir Dougie kon gee, was om hom ledig by die kantoor te laat rondsit. As daar nie stories was nie, het hy self een gaan soek en dan ’n verslaggewer gaan opkommandeer om saam te gaan. Hy het ’n landwye netwerk van kontakte gehad wat hom laat weet het sodra daar iewers ’n goeie storie opduik.

“Dougie en oorlede Gielie de Kock, ook ’n legende in sy tyd, het met die wonderlikste stories uit die Noord-Kaap en die Kalahari vir Rapport vorendag gekom.

“Met sy aftrede het hy al sy fotomateriaal (behalwe sy natuurleweversameling) aan my geskenk en ek het gesorg dat dit vir navorsingsdoeleindes by die South African History Archives (SAHA) in Johannesburg bewaar word,” het Potgieter geskryf.

Volgens Lee se seun Douglas Lee, is ’n gedenkdiens op Donderdag 14 Februarie om 10:00 gehou. Lee laat sy vrou Rona, dogter Wendy van der Merwe en seuns Charles en Douglas, sowel as ses kleinkinders en twee agterkleinkinders agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button