Local newsNews

Waterberg groet staatmaker-Essa

Oor die jare het Van Blerk by honderde kompetisies, skoue en feeste as beoordelaar of eksaminator van kinderkuns, piouterwerk, houtsneewerk, batik, pottebakkerswerk en bykans elke vorm van kuns en kunsvlyt gedien, of dit aan gretige vroue gedemonstreer.

Waterbergers het op Donderdag 31 Januarie van ’n groot gees, Essa van Blerk (83), afskeid geneem nadat sy in die Wilgers-hospitaal in Pretoria weens ’n bloedklont in die long gesterf het.

Volgens Kotie Wagner, jarelange vriendin, was Van Blerk nog op Donderdag 24 Januarie by die VLU se inligtingsdag in Settlers waar sy vroue in die kunsafdeling touwys gemaak het.

Wagner het haar beskryf as ’n formidabele Spreuke 31-vrou wat nooit bang was om haar kennis te deel en nie gehuiwer het om ander aan te moedig om hul Godgegewe talente te ontgin nie.

Van Blerk was een van die veelsydigste kunstenaars wat die Waterberg opgelewer het en het deur die jare veral diep spore in die VLU getrap.

Sy is ’n oudleerder van Laerskool Alma en Hoërskool Nylstroom en het ná skool aan die destydse Normaal Kollege in Pretoria met kuns as hoofvak studeer. Sy het vir ’n paar jaar lank skoolgehou en later was sy dosent in kuns, kinderkuns, kunsvlyt en pottebakkery by die Pretoriase Onderwys-kollege.

Sy het in 1962 by die Alma-VLU aangesluit. Later was sy sekretaresse en nog later voorsitter van die tak. Daarna was sy ses jaar lank voorsitter van die Waterberg-streek en het ook op die hoofbestuur van die VLU gedien.

Oor die jare het Van Blerk by honderde kompetisies, skoue en feeste as beoordelaar of eksaminator van kinderkuns, piouterwerk, houtsneewerk, batik, pottebakkerswerk en bykans elke vorm van kuns en kunsvlyt gedien, of dit aan gretige vroue gedemonstreer. Omdat sy nie self aan hierdie afdelings kon deelneem nie, het sy begin borduur, kook en bak en ook dáár haar merk gemaak.

Sy het op Alma skoolgehou waar sy haar kuns kon uitleef in skoolkonserte, dekorverf en poppespele. Later het sy voltyds by die familiewinkel op Alma, De Jager & Bekker, betrokke geraak.

Haar huis in Panorama Park in Bela-Bela was ’n kunsmuseum in die kleine. Oral teen die mure was van haar skilderye en hout-sneewerk, met pottebakkerswerk, kussings in al wat ’n borduursteek is en handge-maakte dekens wat die huis volgemaak het.

Haar naam is ook opgeneem in die boek, A Dictionary of the Artists of the Waterberg (SAS Kloppers) en sy het onder meer die skoolwapen van Laerskool Alma, asook die wapen van die Renosterpoort-staproete in Rankin’s Pass ontwerp.

Sy en haar man Johann het drie kinders, Solet, Hendrik en Bert gehad. Bert is op vyfjarige ouderdom oorlede. Johann is in 2015 oorlede.

Van Blerk se roudiens vind op Vrydag 8 Februarie om 11:00 vanuit die NG Moedergemeente in Bela-Bela plaas.

Related Articles

Back to top button