Local newsNews

Vee behaal rekordpryse ondanks bek-en-klouseer

Veekopers is klaarblyklik steeds geneë om die hande diep in die sakke te steek, ondanks die bek-en-klouseer-uitbraak in die Vhembe-omgewing in die noorde van Limpopo.

Kenners meen die uitbraak sal ’n negatiewe ekonomiese uitwerking op die veemark hê.

Bek-en-klouseer is ’n ernstige, hoogs aansteeklike virussiekte. Dit raak beeste, varke, skape, bokke en ander gesplete hoef- diere.

Veekrale in die Waterberg-omgewing is egter steeds positief oor die mark, want die siekte is van die begin af beperk en streng wetgewing hou dit binne grense. Sommige veekraaleienaars meen voorts dat die uitbraak uit verband geruk is.

Die Bosvelder-studiegroepveiling op Saterdag 2 Februarie by die Warmbad-veemark het juis dié mening gestaaf. Daar was buitengewone groot belangstelling en ’n rekordaantal kopers het opgedaag om Pedi- en Bosvelderskape aan te koop.

Die veilingsomset was R1 129 850 nadat 184 skape opgeveil is. Die gemiddelde prys per skaap was R6 133, het Rudette Nel van die Bosvelder-studiegroep aan Die Pos gesê.

“Ek het deur die statistieke van die afgelope vyf jaar gewerk en dit is duidelik dat die veilingpryse elke jaar drasties verhoog,” het Nel gesê.

Die hoogste prys wat vir ’n Bosvelderram betaal is, was R34 500. Die hoogste prys vir ’n Bosvelderooi was R8 100.

Verder is die hoogste prys wat op dié dag op ’n Pediram bestee is R9 200 en vir ’n Pediooi R6 800.

Die studiegroep se jaarlikse veiling het in 2014 ’n veilingomset van R375 950 behaal nadat 161 stuks vee opgeveil is. In 2018 is ’n omset van R628 050 behaal nadat daar 157 stuks vee verkoop is.

“Die sukses van die veiling is te danke aan jarelange toewyding en passie van elke teler, asook die suksesvolle vooruitgang van die Bosvelder- en Pedihandelsmerk.”

Die studiegroep het reeds hoë verwag-tinge vir 2020 en hoop om nuwe kopers by die volgende veiling te sien.

Related Articles

Back to top button