Local newsNews

Valentynsdag: Sewe sakke sout is swaar, sowaar!

Navorsers krap ook kop oor die onpeilbare liefdeverskynsel.

Studies gee ’n aanduiding van wat ’n huwelik kan laat werk. ’n Amerikaanse studie het bevind dat paartjies wat ook goeie vriende is, se huwelike hou en dat hulle ook meer tevrede met hul lewens is. Paartjies wat baie gesamentlike vriende en kennisse deel, is volgens ’n studie deur Facebook en die Cornell-universiteit, ook beter daaraan toe.

In menige verhouding is geldsake die vonk in die kruitvat. Dit is verrassend om te lees dat die Universiteit van Michigan se studie van meer as 1 000 mense bevind het dat die suiniges dikwels aangetrokke voel tot die spandabelriges, selfs al veroorsaak dit later groot onmin in ’n huwelik.

Vir die jonger generasie speel sosiale media ’n groot rol in hul verhoudings, veral as dit romanties van aard is. Navorsers aan die Birham Young-universiteit het gevind dat paartjies wat hul liefde betuig, om verskoning vra en groot besluite neem deur elektronies te kommunikeer pleks daarvan om saam te sit, verwyderd van mekaar begin voel. Die studie het ook bevind dat te veel boodskappe mans minder tevrede met hul verhoudings laat voel.

Die Brown-universiteit het op sy beurt weer gekyk na die invloed wat die mense om jou se verhoudings op jou eie het. Volgens hulle navorsing het mense ’n 75% groter kans om te skei as ’n hegte vriend of familielid geskei is. Hulle meen dit beteken dat wanneer ’n mens jou vriende en familie se huwelike en verhoudings help versterk, dit ook jou eie huwelik sterker sal maak.

Meningsverskille en die vrymoedigheid om reeds vroeg in ’n verhouding jou ongelukkigheid te lug voorspel goeie dinge vir die toekoms, sê die Florida-staat Universiteit. Hulle het bevind paartjies wat openlik kwaad is en leer hoe om hul ongelukkighede uit te stryk, beter daaraan toe is as dié wat nie hul ontevredenheid bespreek nie.

— Bronne: www.nber.org; www.arxiv.org; www.herbgoldbergphd.com; www.sciencedaily.com

Related Articles

Back to top button