Local newsNews

Valentynsdag: ’n Geskenkie vir die een wat jy liefhet

Valentynsdag word op Donderdag 14 Februarie oor die wêreld gevier. Maar waaroor gaan dié dag werklik?

Die Pos het ’n paar gr. R-leerders van Bosveldspruitjies Kleuterskool in Bela-Bela gaan uitvra oor wat die betekenis van dié dag is.

Wilna Strydom (Hondjie-klas) het gesê dié dag bestaan sodat mammas lekker in die bed kan bly en lekkernye kan ontvang — “soos sjokolade wat pappas in hartjiebokse vir mammas moet gee”.

 

Elfranco Bredenhann (Hondjie-klas) het gesê dat sy ma en pa op Valentynsdag skottelgoed was. Sy babasussie word aan die slaap gemaak en dan mag hulle ’n storie op televisie kyk en later die dag kry almal lekkers.

 

Mmokeng Mokebe (Uiltjie-klas) het gesê dat dit ’n dag van liefde is. “Want as jy vir iemand lief is, moet jy vir hom of haar iets persent gee. Dit is dan liefde.”

 

Bontle Motlhamonyane (Uiltjie-klas) het gesê dat Valentynsdag ’n dag van liefde is “en as jy vir iemand lief is, moet jy vir daardie persoon ’n geskenk gee”.

 

Marlien Smit (Voëltjie-klas) weet dat die liefde gewoonlik te doen het met drukkies uitdeel. Sy het gesê haar ma en pa koop gewoonlik vir mekaar kos “soos sjokolade”, maar gelukkig kry sy ook dan geskenke.

 

Tres-Jolie Viljoen (Voëltjie-klas) het gesê die winkelrakke is propvol sjokolade en dat haar pa daarvan sal koop vir haar ma. Haar ma koop ook vir haar pa blomme, het sy gesê. Tres-Jolie beplan om vir ’n seun in die klas ’n Valentynsdagkaartjie met ’n blomprentjie op te gee.

Related Articles

Back to top button