Local newsNews

Nuwe uitdagings wink vir gewilde Boer Toanette

Els neem ’n blaaskans van haar eie onderneming waar sy wildlewekursusse vir kinders aangebied het.

Toanette Els, gewilde Boer Soek ’n Vrou-deelnemer van Modimolle, stof dié week haar hande af en begin in alle erns met haar nuwe werk.

Sy kry die geleentheid om te werk waar haar hart is — in die veld met wild.

Els se keuse tussen die jong vryers in die reeks het op Nardus van Wyk (24) van Roedtan geval en die liefde loop maande later steeds hoog. Van Wyk vertrek binnekort Amerika toe waar hy vir ’n paar maande plaaswerk in Montana gaan verrig. Die paartjie sal die liefdesvlammetjie via Skype aan die brand moet hou.

“Ek glo ons kan dit doen, want ons verhouding is sterk,” het sy aan Die Pos gesê.

Els neem ’n blaaskans van haar eie onderneming waar sy wildlewekursusse vir kinders aangebied het.

“My onderneming het skade gely ná al die slegte publisiteit. Ek het besluit om nader aan Nardus te trek en woon nou in Thabazimbi. Ek sien uit na die nuwe uitdaging.”

Els werk nou as bemarker en agent vir Thabazimbi Wildlife Services. Van Wyk se familie besit ’n beesplaas in die omgewing.

Els was verlede jaar telkens in die nuus — nie net vir haar gewildheid in die reeks nie, maar ook nadat een van haar kliënte haar van bedrog aangekla het. Die saak is vanjaar afgehandel nadat die direkteur van openbare vervolging in Limpopo besluit het om haar nie te vervolg nie. Die klagte het gevolg nadat die kliënt ’n bespreking gekanselleer het omdat haar kind nie meer ’n wildlewekursus wat Els sou aanbied, kon bywoon nie.

Die dispuut het ontstaan oor die deposito wat reeds betaal was. Els het gesê dat sy reeds die kind se verblyf betaal het en nie onmiddellik die volle bedrag kon terugbetaal nie. Die kliënt is sedertdien ten volle vergoed.

“Nardus het my gehelp om die werk in Thabazimbi te kry en ek is baie opgewonde dat ek steeds met wild kan werk.”

Related Articles

Back to top button