Local newsNews

Onnies en leerders skrik groot oor ‘luiperd’ by skool

Die skoolklok het skaars gelui of verskrikte leerders het begin skree dat daar ’n “luiperd” in die draad verstrengel is.

Waar anders as in die Bosveld kan leerders spog met hul vroegoggendondervindings met ’n tierboskat op die skoolterrein?

Die skoolklok het die afgelope week skaars by Laerskool Alma gelui of verskrikte leerders het begin skree dat daar ’n “luiperd” in die draad verstrengel is, het Cornela Erasmus, ’n onderwyser aan Laerskool Alma, aan Die Pos gesê.

Die personeel het dadelik gaan ondersoek instel en gevind dat dit in werklikheid ’n tierboskat was wat in die heining verstrengel was.

Die verskrikte dier het angstig probeer loskom om te vlug.

’n Onderwyser, Cecile Nel, het gelukkig die nommer van ’n plaaslike veearts beskikbaar gehad en hom dadelik gebel. Dr. Johan Barkhuizen van Modimolle was in die Alma-omgewing besig met werk en het kort voor lank tot die redding van die getraumatiseerde dier gekom.

Barkhuizen het die dier bevry en ná ’n deeglike ondersoek vir beserings is die tierboskat weer in die natuur vrygelaat.

“Die leerders het met groot oë vertel van hul ondervinding en ook die les daaruit dat enige vorm van lewe kosbaar is,” het Erasmus aan Die Pos gesê.

Hulle sal ook onomwonde kan staaf dat ’n tierboskat nie sonder “handskoene” (in hierdie geval ’n veearts s’n) aangepak moet word nie.

Erasmus sê ter wille van die leerders se veiligheid en om die kat se spanning te verminder, is die leerders tydens die “reddingspoging” in die klaskamers gehou.

Laerskool Alma wil hul dank teenoor Barkhuizen uitspreek. Volgens Erasmus sal die skool geleenthede soos hierdie aangryp om leerders se kennis oor die natuur te verbeter.

“Ons bly wel in die afgeleë vlaktes van Alma in die Waterberge, maar ons ervaar tog so nou en dan avonture!” het Erasmus laggend gesê.

Related Articles

Back to top button