Local newsNews

Bosveldkapel byt Modimolle-vrou aan die toon

“Ons het vir mekaar gesê ons moet versigtig wees vir slange en daar byt die slang my by my eie huis!”

’n Slang het ’n vrou van Modimolle aan die toon gebyt toe sy ’n gasbottel buite haar huis wou oopdraai.

Pienie Stavast, wat in Bosveldsig woon, vertel dat sy op Woensdag 30 Januarie om 16:30 kos wou maak toe sy besef die gasbottel is nog toegedraai. “Die bottel staan op pootjies binne in ’n boks. Ek het glad nie die slang gesien nie en my lam geskrik. Ek vermoed hy het opgerol onder die bottel gelê,” het sy gesê. Sy kon nie sien watter soort slang dit was nie.

“Ek het my man, Henk, geroep en hy het eers nie besef ek is ernstig nie.” Hulle het die slang ná ’n groot gesukkel doodgemaak. “Ons moes dit ongelukkig doen sodat ons kon vasstel watter soort slang dit is en wat die regte behandeling sou wees.”

Dit was ’n wipneuskobra, ook bekend as ’n Bosveldkapel, wat langer as ’n meter was.

“Ons het die oggend nog in die veld naby Vaalwater in heuphoogte gras gestap. Ons het vir mekaar gesê ons moet versigtig wees vir slange en daar byt die slang my by my eie huis!”

Stavast het gesê die bytplek was ontsettend seer en het gebrand en geklop.

Sy is na dr. Mich Veldman vir behandeling behaas. Hulle kon teengif by die Kranskop-dierekliniek opspoor en nadat hy haar behandel het, is sy per ambulans na die Unitas-hospitaal in Pretoria, wat in slangbyte spesialiseer, geneem.

Volgens Andy Gill van APA-ambulansdienste het die wipneuskobra ’n baie sterk neurotoksiese gif wat die senuweestelsel aantas en asemhalingsprobleme veroorsaak. Dit het ook ’n sitotoksiese komponent wat die weefsel aantas.

’n Toerniket is om Stavast se voet gedraai om te keer dat die gif versprei.

Gill sê dat mense dié besluit eerder in die hande van kundiges moet laat, omdat die nodigheid van ’n toerniket afhang van die soort gif. Dit kan in sekere gevalle skade veroorsaak.

“Ons reageer gereeld op noodroepe vir spinnekop-, slang- en skerpioenbyte. My raad is as jy ver van ’n dorp is, klim in ’n motor en beweeg solank nader — die ambulans kan jou dan langs die pad ontmoet. Tyd is baie belangrik in so ’n geval. Hou die pasiënt kalm en verseker hulle dat alles goed sal verloop. Dit is belangrik om die slang te probeer uitken. ’n Foto of goeie beskrywing sal help sodat die regte behandeling onmiddellik toegedien kan word,” het Gill gesê.

Stavast het goed op behandeling gereageer en is kort daarna uit die hospitaal ontslaan. “My toon is nog seer en die wond word gereeld behandel.”

Sy het haar dank uitgespreek teenoor Veldman vir sy vinnige optrede en ook vir Wilna en Joseph Heymans wat behulpsaam was met die korrekte uitkenning van die slang.

“Die ambulanspersoneel was puik. Dankie aan die veeartse van die dierekliniek wat die serum verskaf het.

“Ek is dankbaar vir my Hemelse Vader wat my deur die moeilike tyd gehelp het,” het Stavast gesê.

Related Articles

Back to top button