Local newsNews

Dié liefdesbootjie vaar al 63 jaar

“Ons lewe was egter nie aldag maklik nie. Ons het besluit om die pad saam te loop en seker te maak dat dit ons nie van mekaar skei nie. Uiteindelik het dit ons nader aan mekaar gebring.”

Die liefde is ’n onderwerp wat minne-sangers, digters, filosowe en die gewone mens op straat eeue lank fassineer.

In ’n era van tydelikheid waar kitsetes, weggooi items en gebroke huwelike die norm is, vra mense dikwels wát dit is wat die liefde se raklewe rek. Die langgetroudes is dit eens dat ’n mens maar daarop moet staatmaak dat die moeilike tye gaan kom. Dit is wat jy met die moeilike tye maak, wat bepaal of ’n huweliksbootjie sink of dryf.

Bart en Junette Harmse van die Residentia Waterberg-aftreeoord in Modimolle vier binnekort hul 63e huweliksherdenking. Vanaf hul sitkamerbank vertel Junette (80) dat hulle nou nóg hegter aan mekaar is as toe sy ’n jong bruid van 17 en Bart (84) ’n 21-jarige tuinboukundestudent was.

Haar oë vonkel. “Ons twee is nog net so stout soos toe. Op ons troufoto kan ’n mens sien hoe ongelukkig my pa met dié vinnige troue was,” lag sy.

Die twee het mekaar tydens ’n boeresportdag by Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg ontmoet en ses maande later het Bart haar pa gevra of hulle verloof kon raak. “Hy was glad nie ingenome nie, omdat ek so jonk was. Ek het hom oortuig dat Bart op pad is om vir drie jaar in Londen te gaan studeer en hy het sag geword.”

’n Skamele drie weke voordat Bart moes vertrek, het sy vir hom gesê as hy regtig vir haar lief was, sou hy haar saamneem, vertel sy met vonkelende oë. “Geld was ’n probleem en ek het ’n witleuentjie vertel dat as ek bedank by die werk, ek ’n uitbetaling van pensioen en verlof saam met my salaris sou kry. Twee dae later het hy kom sê daar is ’n kansellasie op die boot en hy het vir my plek bespreek. Ons ouers was só ontsteld!”

’n Troue moes inderhaas gereël word. Van hul vriende het ’n week vantevore getrou. “Hulle het vir ons gesê as ons in hul klere pas, kan ons alles wat hulle vir hul troue gebruik het ’n week later wéér gebruik. Bart het bosse spierwit tulpe gereël en ons is getroud.” Hulle lag as hulle na mekaar kyk.

“Ons lewe was egter nie aldag maklik nie. Ons het besluit om die pad saam te loop en seker te maak dat dit ons nie van mekaar skei nie. Uiteindelik het dit ons nader aan mekaar gebring.
“Ons tweede baba was baie sieklik omdat ons bloedgroepe nie ooreengestem het nie. Ek het ’n ruk later weer swanger geword en al die dokters het ons aangeraai om die swangerskap te beëindig. Dit was baie spanningsvolle tye maar ons het besluit om die baba te hou.

Hulle baba het wonderbaarlik oorleef en dié gebeure het hul groot geloofspad ingelui.

Junette is drie jaar later met ’n ongeneeslike hartkwaal gediagnoseer. “Ek het drie klein kindertjies gehad, maar was agt maande lank baie swak en bedlêend.” Ook dié siekte is ná gebed wonderbaarlik genees. “Toe my dokter my enkele jare later weer sien, was sy eerste woorde: ‘Ek dog jy is lankal daarmee heen!’”

Wat het hulle bymekaar gehou in moeilike tye?

“Ons het aan die begin onderonsies gehad dat die skoene waai. Mettertyd groei ’n mens daaruit. ’n Mens moet besef wat die ander een skade doen, doen jou ook skade. As ’n mens God eerste stel, val die res in plek.

“’n Huwelik is spanwerk; ’n vennootskap. Net soos in ander huwelike het ons ook stry oor geldsake gehad. Dan moet mens volwasse wees en dit sit en bespreek.

“Ons is mekaar se grootste ondersteuners. Ek het geluister na sy probleme by die werk en hy het altyd ge-oe-en-aa oor my skilderye. Ná al die jare is hy nog steeds ’n gentleman en behandel hy my soos toe ons ontmoet het. In ons laaste jare versorg ons mekaar met liefde.”

Related Articles

Back to top button