Local newsNews

Inwoners koester mooi herinneringe oor Faber

“Hy het altyd kaalvoet dorp toe geloop met sy groot hoed op sy kop en nooit sonder sy sakdoek en sy snuifblikkie nie. Hy het graag kerk toe gestap.”

Andries Faber (83), ’n jarelange inwoner van Vaalwater, is op Dinsdag 22 Januarie in die FH Odendaal-hospitaal in Modimolle oorlede.

Volgens sy familie is hy aan natuurlike oorsake oorlede.

Faber is in 1935 op die plaas Witfontein gebore en het in die Vaalwater-omgewing grootgeword. Hy het ook daar skool gegaan.

Faber het ’n verskeidenheid beroepe gevolg. Hy was onder meer by die plaaslike koöperasie, die Vaalwater-busdiens, die Vaalwater-munisipaliteit, asook by die Vaalwater Meule betrokke. Hy het ook vir ’n ruk die stasie in Waterval-Boven beman waar hy die roete na Mokopane nagegaan het. Faber en sy gesin het tot met sy dood (34 jaar) langs die polisiestasie in Vaalwater gewoon.

“Hy het altyd kaalvoet dorp toe geloop met sy groot hoed op sy kop en nooit sonder sy sakdoek en sy snuifblikkie nie. Hy het graag kerk toe gestap,” het sy dogter, Marie, aan Die Pos gesê.

“Hy was trots op sy huis, sy hoenders, ganse, tuin en vrugtebome. Hy het graag mense by hom laat loseer en hulle versorg en gehelp waar nodig.”

Faber is op Maandag 28 Januarie in die familiekerkhof op die plaas Witfontein begrawe. Hy laat ses kinders, ’n broer en suster, sy kleinkinders en agterkleinkinders agter.
Die familie wil veral vir Yolandi Pretorius Loots, sy aangenome kind, uitsonder. Sy het hom vir baie jare versorg en ondersteun.

Related Articles

Back to top button