Local newsNews

Padsterftes styg in 2018-feesseisoen

Daar het landwyd 1 286 voertuigongelukke oor die feestyd plaasgevind, waarin 1 612 mense dood is.

Die padsterftesyfer in Limpopo het die afgelope feesseisoen met 7% gestyg.

Luidens ’n verklaring van Matome Moremi, provinsiale verkeerswoordvoerder, het Blade Nzimande, minister van verkeer op Woensdag 16 Januarie bekend gemaak dat daar landwyd 1 286 voertuigongelukke oor die feestyd plaasgevind het, waarin 1 612 mense dood is.

In 2017 het 1 257 ongelukke plaasgevind, wat ’n 2%-styging in 2018 getoon het.

Makoma Makhurupetje, provinsiale LUR vir veiligheid, het op Donderdag 17 Januarie bekend gemaak dat daar in Limpopo 138 ongelukke met 178 sterftes was — ’n 7% styging teenoor 2017.

Luidens die verklaring was die oorsake van al die ongelukke onpadwaardige voertuie, voetgangers wat oor paaie gestap het sonder om vir verkeer op te let, tref-en-trap-ongelukke, voertuie wat mekaar riskant verby gesteek het teen die aankomende verkeer in, motorbande wat gebars het, alkoholmisbruik en moegheid.

Die meeste slagoffers was mans tussen die ouderdomme 22-39 en die ongelukke het meestal oor naweke tussen 22:00 en 06:00 gebeur, lui die verklaring. Die meer ernstige ongelukke het toegeneem van 138 na 144.

Die gevaarlikste paaie in die provinsie bly die N1-snelweg, asook die R101 wat Mookgophong, Modimolle, Bela-Bela, Radium, Pienaarsrivier en Hammanskraal verbind. Ander paaie waar ongelukke voorgekom het, is die N11, R71, R521, R524, R523, R36, R37, R40, R555, R81 en R25.

Die groot toename in verkeersvolumes het die werk van verkeersbeamptes en die polisie geraak, lui die verklaring.

Makhurupetje sê in sy verklaring nadat die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) in 2018 verkeerskameras langs die N1 tussen Modimolle en Mookgophong geplaas het, het ongelukke daar afgeneem.

Verkeersowerhede het tussen Saterdag 1 Desember en Dinsdag 8 Januarie 354 591 motorryers in Limpopo van die pad getrek en die voertuie deursoek. Voortspruitend hieruit is 3 745 mense sonder rybewyse aangekla, 12 179 motorryers vir spoed aangekla, 3 665 mense beboet weens voertuie wat oorlaai is, 383 voertuie geskut en 288 mense in hegtenis geneem weens dronkbestuur.

Makhurupetje het gesê die regering streef daarna om teen 2030 ’n 50% afname in padsterftes te behaal.

Related Articles

Back to top button