Local newsNews

Helpende Hand open winkel in Mookgophong

Solidariteit Helpende Hand het besluit om ’n winkel in Mookgophong te open om geld vir hulpbehoewende gesinne in en om die dorp in te samel.

Dit het gevolg nadat Volkshulp 2000 sy winkel einde verlede jaar in die dorp gesluit het.

Volgens Marianthie van der Walt, streekvoorsitter van Helpende Hand in Limpopo en Noordwes, is die organisasie baie opgewonde oor die nuwe winkel. Die winkel sal as “Ons Winkel” bekend staan en is afhanklik van skenkings van die publiek.

Benita Fourie staan aan die stuur van sake by Ons Winkel. “Ons sien baie daarna uit om ’n verskil in die gemeenskap te maak en ons verwelkom alle inwoners met ope arms,” het Van der Walt gesê.

Ons Winkel aanvaar skenkings van onder meer klere, meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, skoene, sporttoerusting en tegnologiese toerusting wat spotgoedkoop herverkoop word. As daar ’n behoefte of die nodige hulpbronne is, kan van die winkels se bestuurders reël dat voorraad by skenkers se persele opgelaai word.

Helpende Hand het altesame 37 Ons Winkels landwyd, wat voorheen net as algemene skenkingswinkels bekend gestaan het.

Die doel van die landwye Ons Winkels-projek skep nie net werk vir die persoon wat die winkel bestuur nie, maar ook vir winkelassistente uit die gemeenskap. Met die opbrengs van die verkope stel Helpende Hand onder meer studiegeld beskikbaar vir studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie die geld daarvoor het nie. “Baie maatskaplike kwessies kry ook danksy wins of geskenkte voorraad aandag,” het Alet Robbeson, hoof- operasionele bestuurder van Ons Winkels, in ’n mediaverklaring gesê.

Vir meer inligting, bel vir Benita Fourie, winkelbestuurder, by tel. 082 961 5925.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button