Local newsNews

Waterfront se toekoms nog onduidelik

Planne om die Bela-Bela Waterfront te laat herleef is nog in die pyplyn nadat dié eens spogsentrum in twee afsonderlike brande in Mei en Augustus verlede jaar verwoes is.

’n Brand het in Mei aan die agterkant van die Waterfront uitgebreek, waarna vier sakepersele verwoes is. Die eienaars van die geboue het ’n saak van brandstigting by die plaaslike polisiestasie geopen.

’n Meer verwoestende brand het in Augustus by die Rodeo’s restaurant in die sentrum uitgebreek en nege van die grasdakstrukture by dié gewilde sentrum verwoes. ’n Sterk wind het die vlamme buite beheer laat raak en die vuurtonge het dié keer nie genade getoon nie.

Geskokte lede van die gemeenskap het dié keer magteloos toegekyk hoe die hele sentrum by die hoofingang van die dorp verswelg word.

Die brandweerdienste kon die vlamme weghou van die grasdakgebou waar Ocean Basket voorheen was tot voor Woodvale Timbers.

Die meeste van die ontwrigte sake-eienaars in die sentrum het sedertdien na nuwe persele geskuif en weer hul deure vir die publiek geopen.

Forensiese ondersoeke deur die polisie en versekeraars het ná die brande gevolg.

Die Pos het navrae aan die Bela-Bela-polisie gerig oor hoe die ondersoek tans vorder en verneem dat die ondersoek steeds nie afgehandel is nie.

Die meeste van die puin is reeds opgeruim, maar afgebrande strukture is steeds sigbaar.

NJ van Heerden, mede-eienaar van die Waterfront, het by navraag aan Die Pos gesê dat hulle steeds besig is om sake met die versekeraars uit te klaar.

Hy het gesê gesprekke word tans gevoer met potensiële nuwe huurders wat in die toekoms by die Waterfront sake wil doen.

Op die vraag of daar nuwe geboue by die Waterfront gebou gaan word, het Van Heerden gesê: “Ja ons sal moet, want ’n mens kan nie in die son handel dryf nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button