Local newsNews

Sakeman se ma in groot ongeluk

Die Nissan-bakkie het teen ’n ligte sedan gebots en een van die passasiers van die sedan moes uit die motor gesny word.

 

Hester Du Preez (78) was op Donderdag 10 Januarie op pad terug van Mookgophong na die plaas waar hulle woon toe sy in ’n botsing reg van voor betrokke was.

Du Preez woon al baie jare in die Crecy-omgewing en is ’n bekende inwoner van die kontrei.

Die ongeluk het by Twee Koppies op die R516 na Roedtan gebeur terwyl ’n harde bui reën uitgesak het.

Mokone du Preez, Hester se seun, het aan Die Pos gesê dat hy ongeveer 12:30 ’n oproep van sy ontstelde ma ontvang het. Haar Nissan-bakkie het teen ’n ligte sedan gebots en een van die passasiers van die sedan moes uit die motor gesny word. Die bestuurder van die sedan is baie ernstig beseer en is na die Voortrekker-hospitaal in Mokopane geneem. Sy naam is nie bekend nie.

Hester is met vier gebreekte ribbes in die Nedcare-hospitaal in Polokwane opgeneem waar sy tans aansterk.

Volgens Du Preez was die reaksie van die verkeersafdeling van Mookgophong en die provinsiale ambulansdienste uitstekend en het hulle dadelik hulp verleen. Verskeie lede van die gemeenskap het ook hulp op die toneel verleen.

“Ek wil my dank uitspreek teenoor almal van Roedtan, Crecy, Tuinplaas en Mookgophong wat so vinnig gereageer het Dit was wonderlik om dit te beleef,” het hy gesê.

Die R516 is bekend vir sy swak teeroppervlakte en baie slaggate.

Related Articles

Back to top button