Local newsNews

Rolspelers in landboubedryf tref alle moontlike voorsorgmaatreëls om bek-en-klouseer te stuit

“Pryse gaan ’n groot knou kry. Ons het dit reeds op veilings gesien.”

Vleiskopers en vee-eienaars hou steeds landwyd asem op oor die uitbraak van bek-en-klouseer in Limpopo.

“Pryse gaan ’n groot knou kry. Ons het dit reeds op veilings gesien,” het Fanie Lombard, ’n direkteur van André Kock en Seun Lewende Hawe-afslaers se hoofkantoor, by navraag gesê.

Bek-en-klouseer is ’n ernstige, hoogs aansteeklike virussiekte wat die veebedryf met ’n beduidende ekonomiese impak beïnvloed. Dit raak volgens Agri SA beeste, varke, skape, bokke en ander gesplete-hoefdiere.

Die siekte raak egter nie mense nie. Die tekens van bek-en-klouseer sluit depressiewe diere met sere in hul bekke in. Dit maak dat die diere onwillig raak om te eet.

Die uitbraak is amptelik op Dinsdag 8 Januarie deur die departement van landbou bekend gemaak nadat laboratoriumtoetse vasgestel het dat die siekte in die Vhembe-omgewing opgeduik het.

Volgens die departement was die laaste uitbraak in Augustus 2017 in die Giyani-omgewing.

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het in ’n verklaring gesê die land het tydens die vorige uitbraak ongeveer R6 biljoen verloor.

Maatreëls is volgens die departement reeds ingestel om die siekte te bekamp soos dat vee in die Vhembe-omgewing nie vervoer mag word nie. Streng kontrole word ook gehou oor die beweging van kuddes.

Lombard het gesê die hele land se vleisbedryf word nadelig beïnvloed en buitelandse uitvoere is gestaak omdat die land sy bek-en-klouseervrye status verloor het.

“Die gevolg is dat buitelandse uitvoere nou binnelands verkoop moet word en streng mededinging sal plaasvind. Dit kan egter dalk vir die verbruiker voordelig wees, aangesien vleis goedkoper sal wees.”

Personeel by die veilingkrale van André Kock en Seun, asook Vleissentraal in Bela-Bela, is paraat en vee word goed nagegaan voordat dit te koop aangebied word. Die bestuur van albei die veilingshuise het gesê hulle is voortdurend in gesprek met owerhede om sake te moniteer.

Dit is albei ondernemings se mening dat verkopers oor die volgende paar maande nie goeie pryse vir hul vee sal behaal nie. Veral speenkalwers se pryse is onder druk.

“Ons het nog nooit die siekte hier in ons omgewing gehad nie en ons glo dat die uitbraak buite verband geruk word, wat pryse regoor die land negatief beïnvloed,” het Paul van Vuuren, direkteur van André Kock en Seun-afslaers in Bela-Bela gesê. “Ons ontvang tans geen beeste uit die sogenaamde gevaarsone in Limpopo nie.”

Kobus Potgieter van Vleissentraal het gesê dit is onwaarskynlik dat die siekte na Bela-Bela sal versprei omdat daar streng maatreëls is om die siekte te bekamp.

Die departement van landbou het aan Die Pos bevestig dat geen voorvalle van die siekte aangemeld is nie.

André Kock en Seun en Vleissentraal gaan steeds voort met beplande veilings. Die afslaers is oplettend oor die toestand van die vee op veilings,.

Die RPO, nes die Transvaalse landbou-unie (TLU SA) en Agri SA, plaas baie van die blaam vir dié krisis op die departement se gebrek aan mannekrag en geld.

Die RPO, in samewerking met die nasionale dieregesondheidsforum, sê in ’n verklaring hulle beplan om pogings aan te wend om die probleem so gou moontlik uit te stryk en om toe te sien dat die departement sy sokkies optrek en sorg dat die land weer sy bek-en-klouseervrye- status terugkry.

Vee-eienaars word steeds deur die departement aangeraai om enige simptome onder hulle vee aan te meld.

Related Articles

Back to top button