Local newsNews

Abraham Kriel se liggies bring gróót geldelike verligting

Modimolle het die afgelope Kersseisoen behoorlik geskitter met duisende Kersliggies wat by die Abraham Kriel-kinderhuis geflikker het.

Met dié nuwe fondsinsamelingsprojek beplan die kinderhuis om nie net broodnodige geld in te samel nie, maar ook ’n trekpleister vir die dorp te skep om besoekers te lok. Kinderhuise elders in die land lok elke jaar derduisende besoekers met hul Kersliggie-projekte.

“Ons het vir ons eerste Kersseisoen ’n doelwit van R100 000 gestel, maar kon net R81 000 insamel. Ons is steeds dankbaar en baie opgewonde oor ons projek. Die inkomste help om die geweldige tekorte wat ons het te verminder, het Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, gesê.

Sowat 2 200 mense het die Kersliggies gedurende Desember besoek.

“Ek wil graag elkeen wat ons projek ondersteun het deur na die liggies te kom kyk of die kosstalletjie te ondersteun, van harte bedank. Sonder die gemeenskap se ondersteuning kon hierdie projek nie ’n sukses gewees het nie,” het Van der Merwe gesê.

Die projek het die lig gesien nadat Plumrus Tuiste in die Kaap die Kersliggies geskenk het. George Smit van Pretoria het die vervoer van die liggies georganiseer en ’n skenker van Pretoria, Hennie van der Merwe van Megawatt Projects, het die liggies opgesit.

“Die personeel van die kinderhuis het ywerig saamgewerk om van die reuseprojek ’n sukses te maak,” het sy gesê.

“Ons is opgewonde en wil graag die projek uitbrei. Indien daar individue of onder-nemings is wat vir ons donasies kan maak of liggies skenk, sal ons dit baie waardeer,” het Van der Merwe gevra.

Related Articles

Back to top button