Local newsNews

Laaste kans vir kiesersregistrasie

Suid-Afrikaners gaan oor ’n paar maande stembus toe om aan te dui watter party die land moet regeer.

Kiesers wat vir die verkiesing wil registreer of herregistreer moet tussen Saterdag 26 Januarie en Sondag 27 Januarie by hul onderskeie stemlokale uitkom. Luidens ’n verklaring van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) is dit die laaste registrasienaweek vir gewone kiesers.

Volgens die OVK sal altesame 22 927 stemlokale regoor die land op dié twee dae van 08:00 tot 17:00 oop wees vir mense om te registreer.

In Bela-Bela het daar slegs twee veranderings van stemlokale plaasgevind sedert die nasionale verkiesing in 2016.

Volgens die plaaslike OVK is die Motswedi Primary School in Wyk 9 nie meer ’n stemlokaal nie.

Mense wat voorheen by dié skool gestem het, moet nou by die Rietspruit-plaas in die Mabula-omgewing registreer en hul kruisies later vanjaar daar trek.

Daar is ook ’n nuwe stemlokaal in die Tweefontein-omgewing (Wyk 7) by die Sondela-natuurreservaat. Die lokaal is in die omgewing van Sondela se hoofingang op die R516-pad na Settlers. Die ander stemlokale bly voorlopig onveranderd.

Kiesers kan hul besonderhede op die OVK se webwerf nagaan. Kiesers wat verhuis het, moet seker maak of hulle by die regte stemlokale geregistreer is.

Slegs kiesers ouer as 18 jaar mag stem. Mense word aangeraai om ’n afskrif van hul identiteitsdokument (ID) of ’n tydelike ID saam te bring om te registreer of om te herregistreer. ’n Bewys van adres sal nie verlang word nie.

Mense wat nie by stemlokale kan uitkom nie weens onder meer gebrekke of ouderdom, kan hul plaaslike OVK-kantore kontak en uitvind hoe hulle sal kan stem.

Pres. Cyril Ramaphosa sal na verwagting eersdaags die verkiesingsdatum bekend maak. Volgens die OVK sal die verkiesing êrens tussen 7 Mei en 5 Augustus plaasvind.

Vir meer inligting kan mense die OVK se webwerf by www.elections.org.za besoek. Die plaaslike OVK-kantore by die Bela-Bela-munisipaliteit kan bereik word by tel. (014) 736 8006.

  • Die voorlopige stemlokale en registrasie-punte in die Bela-Bela-omgewing is as volg:

    Wyk 1: Laerskool Warmbad en die NG Moedergemeente.
    Wyk 2: Die ou skougronde (tent), Mmamakwa Primary School, Raeleng High School en die Bela-Bela-gemeenskapsaal.
    Wyk 3: Albert Luthuli Primary School.
    Wyk 4: Mathintha School, Settlers Agricultural High School, Uitbreiding 8, Antioch River Church, Towoomba-landbounavorsingstasie en Roodekuil-kafee (tent).
    Wyk 5: Rakgadi Pre School, Bela-Bela High School en New Jerusalem Church.
    Wyk 6: Thusanang School, Hleketani Primary School en die openbare werkesaal.
    Wyk 7: Die dubbelverdiepinghuis, Emmerentia Gelden-huys, Sondela-natuurreservaat, Bela-Bela Christian Church en Tsakane Crèche.
    Wyk 8: Kgobongwane Primary School, Rust de Winter-polisiestasie en Bathopele School.
    Wyk 9: Rietspruitplaas, Blaauwboschkuil School, Rhenosterkloof Primary School, Spa Park Primary School, Saamwerk-winkel, Platrivier-kafee (tent) en Peet se padstal.

Related Articles

Back to top button