Local newsNews

Bielie van ’n luislang van gewisse skokdood gered

“Baie boere se elektriese draadheinings is te naby aan die grond wat veroorsaak dat groot slange nie onderdeur kan seil nie,” het hy gesê.

Die Warmbad Dierekliniek het op Vrydag 11 Januarie ’n bielie van ’n slangpasiënt behandel.

Dié luislang is deur ’n elektriese heining op ’n plaas naby Toeka se Dae-padstal op die R516-pad na Settlers geskok.

Ruan Venter, plaaslike slangvanger, is uitgeroep om die ongeveer 5 m lange slang te red.

Volgens hom het die luislangwyfie waarskynlik haar prooi vooraf ingesluk en vasgesit toe sy onderdeur die heining probeer seil het.

Dit het tot gevolg gehad dat sy vir ongeveer ’n halfuur lank aanhoudend geskok is. Die slang was baie swak en aan die vrek toe Venter op haar afgekom het.

“Baie boere se elektriese draadheinings is te naby aan die grond wat veroorsaak dat groot slange nie onderdeur kan seil nie,” het hy gesê.

Die slang is na die dierekliniek geneem waar sy baie vloeistowwe ingegee en gemoniteer is,” het Venter gesê.

Sy het gou herstel en is in ’n veilige omgewing vrygelaat.

Venter het gesê dié slang kan moontlik 20 jaar of ouer wees omdat dit lank neem vir luislange om só lank en groot te word.

Met die draai van die seisoen gebeur dit dikwels dat slange in mense se dorpserwe en naby huise aangetref word.

Venter het die afgelope drie weke sewe slange (giftig en nie-giftig) in die omgewing gehelp verwyder.

Die jongste was ’n boomslang wat hy by ’n woonstel in die dorp verwyder het.

Erge hitte en ’n gebrek aan voedsel ver-oorsaak dat slange uit hul natuurlike omgewing beweeg na plekke waar mense woon, het hy gesê.

“As dit warm is, soek hulle koelte en as dit koud is, soek hulle hitte. Tuine wat onder meer gereeld natgemaak word, is vir hulle ideaal omdat dit koel is,” het Venter gesê.

“Mense moenie paniekerig raak wanneer hulle op ’n slang afkom nie. Bly kalm en beweeg weg van die reptiel. Hou die slang se bewerings dop sodat ’n slangvanger dit vinnig kan opspoor.” Mense moet veral hul erwe skoon hou en seker maak dat daar geen bron van voedsel vir slange, soos paddas, is nie, het hy gesê.

  • Daar is volgens Venter tans 12 nie-giftige soorte en agt giftige soorte slange in die Bela-Bela-omgewing te vinde. Inwoners van Bela-Bela wat op ’n slang afkom, kan vir Venter bel by tel. 084 679 7774.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button