Local newsNews

Meld bek-en-klouseer onmiddellik aan

“Enige aangemelde voorvalle van bek-en-klouseer moet met die grootste erns behandel word weens die ernstige implikasies wat hierdie hoogs aansteeklike siekte vir lewende hawe- en wildboere kan hê.”

Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status is op Dinsdag 8 Januarie opgeskort nadat die siekte in die verre noordelike dele van Limpopo uitgebreek het.

Agri SA is baie bekommerd oor die aankondiging deur die departement van landbou, bosbou en visserye nadat laboratoriumtoetse die uitbraak bevestig het.

Volgens inligting van die Transvaalse landbou-unie van Suid-Afrika (TLU-SA) het die siekte buite die Vhembe-omgewing uitgebreek.

Bek-en-klouseer is ’n ernstige, hoogs aansteeklike virussiekte wat die veebedryf met ’n beduidende ekonomiese impakbeïnvloed. Dit raak beeste, varke, skape, bokke en ander gesplete hoefdiere, het Janse Rabie, Agri SA se hoof van natuurlike hulpbronne, in ’n verklaring gesê.

Die siekte affekteer nie mense nie. Die tekens van bek-en-klouseer sluit depressiewe diere en sere in hul bekke in, wat maak dat die diere onwillig raak om te vreet, het hy gesê.

Wat dit beteken is dat enige uitvoere waar ’n bek-en-klouseervrye sone-verklaring vereis word, nie tans toegelaat kan word nie.

TLU SA het gesê die land verloor nou ’n klein segment  op buitelandse winkelrakke en ander lande wat met die land meeding, sal die gaping in die mark raaksien. Dit sal volgens TLU SA tyd neem om die vrye status te herwin en selfs wildsvleisuitvoere sal hierdeur geraak word.

“Enige aangemelde voorvalle van bek-en-klouseer moet met die grootste erns behandel word weens die ernstige implikasies wat hierdie hoogs aansteeklike siekte vir lewende hawe- en wildboere kan hê,” het Rabie gesê.

Kenners van die departement en Limpopo se veeartsenykundige dienste het verdere ondersoeke gedoen om die omvang van die uitbraak te bepaal. Beheermaatreëls sal na aanleiding van die bevindings van hierdie ondersoek ingestel word, aldus Agri SA.

Die departement het in ’n verklaring gesê die geaffekteerde gebied is onder kwarantyn geplaas en geen beweging van diere en diereprodukte sal toegelaat word nie. Die saak is ook op Maandag 7 Januarie by die Wêreldorganisasie vir dieregesondheid (OIE) aangemeld.

Boere verder weg van die gebied is gewaarsku om nie nuwe diere in hul kuddes toe te laat nie en dat die beweging van hul eie diere na ander plase ook beperk moet word, het Rabie gesê.

TLU SA doen ’n beroep op boere, veespekulante en ander veehandelaars en agente om nie diere aan te koop nie.

Dit is veral vir TLU SA ’n kommer dat die departement nie genoeg opgeleide personeel beskikbaar het om die uitbraak te kon voorkom nie.

Volgens ’n plaaslike woordvoerder wat betrokke is by die departement in Bela-Bela is daar nog geen gevalle van bek-en-klouseer in die omgewing aangemeld nie.

Die woordvoerder se raad is dat boere gevalle dadelik onder die aandag van die plaaslike of naaste staatsveearts moet bring, of om die Towoomba- landbounavorsingstasie buite die dorp op die R516-pad na Settlers te besoek.

Die staatsveearts in Bela-Bela kan bereik word by tel. 082 770 5243, het die woordvoerder gesê.

Related Articles

Back to top button