Local newsNews

Hofsake, motorbotsings en fratsongelukke in feestyd

Die Pos het sy deure op Maandag 7 Januarie ná drie weke van luilekker rus geopen en berig graag oor nuusgebeure in ons omgewing gedurende dié tyd:

  • ’n Plaaswerker is op Saterdag 29 Desember dood nadat ’n kameelperdbul hom by die Thandile Country Lodge buite Bela-Bela geskop het.

    Volgens kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, was Rakatu Silas Moiloa (49), die plaaswerker, blykbaar besig met sy daaglikse take toe hy te naby aan die bul gekom het. Hy was volgens Cobus Daniel, mede-eienaar, glo op pad om die perde op die plaas te gaan voer. Daniël het gesê dat hulle Moiloa bewusteloos en sonder ’n hartklop aangetref het, waarna die nooddienste ontbied is.

    Die nooddienswerkers kon sy hart weer aan die klop kry, maar hy is kort daarna aan ernstige inwendige beserings dood. Moiloa het sewe jaar by die lodge gewerk.

    “Hy was iemand op wie ons kon staatmaak. Hy was lief vir diere en het die nodige opleiding gehad om diere se gedrag te verstaan. Die laaste paar weke was vir ons hel,” het Daniel gesê.

    Die kameelperd, wat volgens Daniel ’n rustige dier is, is intussen na ’n ander kamp geskuif.

    Familie, vriende, kollegas en werkgewers het op Saterdag 5 Januarie van Moiloa afskeid geneem tydens sy begrafnis.

    ’n Nadoodse ondersoek is sedertdien deur die polisie geopen, het Ngoepe gesê.

  • Drie mense is Sondag 16 Desember noodlottig beseer in ’n ernstige ongeluk ongeveer 500 m van die Mantsole-weeg-brug op die N1-snelweg.

    Matome Moremi, provinsiale verkeers-woordvoerder, het gesê ’n motorryer in ’n Toyota Fortuner het vermoedelik beheer oor sy voertuig verloor. Die voertuig het oor die middelman op die snelweg gery en reg van voor teen ’n 22-sitplek minibustaxi gebots.

    Die bestuurder van die Toyota, asook twee kinders wat in die minibus was, is dood.

    Volgens Moremi het die nooddienste 31 pasiënte na plaaslike hospitale afgevoer.

  • Die vier Bela-Bela-polisiebeamptes wat verlede jaar deur lede van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdade (die Valke) in hegtenis geneem is op aanklagte van korrupsie, gewapende roof en ontvoering, het op Donderdag 13 Desember in die Bela-Bela-landdroshof verskyn.

    Sers. Humbulani Mulaudzi (39), konst. Hlengani Jan Maswanganyi (33), konst. Sibusiso Wimpy Makwela (37) en konst. Simon Sebelebele (40) is uit op borgtog.

    Die aanklagte spruit uit ’n voorval waar hulle glo ’n man van ’n plaaslike dobbelplek na ’n plek buite die dorp geneem en omkoopgeld geëis het, het die Valke vroeër gesê.

    Die vier se saak is uitgestel na Vrydag 22 Februarie vir verdere ondersoek en hulle borgtog is verleng.

  • Danie van der Westhuizen (36) van Bela-Bela, wat verlede jaar op aanklagte van diefstal in die hof verskyn het, is in Desember in hegtenis geneem op aanklag van moord op sy pa, Hardus van der Westhuizen (58).

    Die inhegtenisname volg nadat Hardus glo op Woensdag 5 Desember in Pienaarsrivier aangerand is en later in ’n Mokopane-hospitaal dood is. Hy was volgens die polisie besig met vervoerkontrakwerk toe die voorval plaasgevind het.

    ’n Nadoodse ondersoek is geopen om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal, maar dié is nog onvolledig, het die polisie gesê.

    Danie het voor sy pa se dood saam met hom op aanklagte van diefstal van trokbande in die hof verskyn. ’n Bykomende aanklag van die diefstal van voertuigonderdele is ook teen hom geopen.

    Danie ontken skuld op die moordaanklag en borgtog van R5 000 is aan hom toegestaan.

    Die moordsaak is uitgestel na Vrydag 1 Maart. Die diefstalsake kom weer op Vrydag 18 Januarie voor.

    Hardus het voor sy dood ook verskyn op aanklag van veediefstal saam met twee ander verdagtes, Jeffrey Letlhaka (28) en Jan Makwela (34).

    Hardus het egter ’n staatsgetuie in die saak geword en is op waarskuwing vrygelaat, waarna die hof borgtog aan Letlhaka en Makwela toegestaan het.

    Die veediefstalsaak kom ook weer op Vrydag 18 Januarie voor.

Related Articles

Back to top button