Local newsNews

R20 per uur is eersdaags werkgewers se voorland

Pres. Cyril Ramaphosa het die nasionale minimumloon-wetsontwerp op Maandag 26 November onderteken waarin ’n loonverhoging vir 2019 aangekondig is.

Die koste-implikasie van ’n hoër minimumloon kan vir sommige huishoudings die spreekwoordelike laaste strooi wees, maar vir baie werkers is dit ’n welkome verligting.

Pres. Cyril Ramaphosa het die nasionale minimumloon-wetsontwerp op Maandag 26 November onderteken waarin ’n loonverhoging vir 2019 aangekondig is.

Die president se ondertekening van die nuwe wet volg vier jaar nadat die nasionale ekonomiese ontwikkeling- en arbeidsraad (Nedlac) beraadslaag het oor die beskerming van lae-besoldigde werkers, asook vir regverdige en doeltreffende mededinging in die arbeidsmark.

Ander uitdagings wat bespreek is, is onstabiliteit in die arbeidsmark wat veroorsaak word deur gewelddadige stakings, die duur van stakings en beweerde ongelykheid in die arbeidsmark, het Khusela Diko, regeringswoordvoerder, in ’n verklaring gesê.

Ramaphosa het na aanleiding van die beraadslaging en aanbevelings deur ’n adviespaneel onder voorsitterskap van prof. Imraan Valodia van die Universiteit van die Witwatersrand, ingestem tot die wysigingswetsontwerp op basiese diensvoorwaardes en arbeidsverhoudinge wat deur Nedlac onderhandel is, het Diko gesê.

Die nuwe loonwet se langtermyndoel is om die lewensstandaard van werkers regoor die land te verbeter en om ongelykheid in die arbeidsmark te verminder.

“Die wet stel die land se nasionale minimumloon teen R20 per uur vas, wat gelykstaande is aan R3 500 per maand, afhangende van die aantal ure wat gewerk is. ’n Infaseringsproses vir plaas-, bosbou-, huishoudelike-, welsyn- en sorgwerkers is in die pyplyn omdat hulle juis weerbaar is vir werkloosheid,” het Diko gesê.

Teboho Thejane, woordvoerder van die departement van arbeid, het aan Die Pos gesê hulle navorsing het getoon die R20 per uur-minimumloon is bekostigbaar vir werkgewers, maar dat dit ook afhang van die kontrak tussen die werkgewer en werker.

“Die betaling word geklassifiseer as ’n minimumloon en nie as ’n loon wat hoog genoeg is om ’n normale lewenstandaard te handhaaf nie,” het Thejane gesê. “Dié wet sal egter werkgewers verantwoordbaar hou om na hul werkers om te sien.”

“Indien werkers voel dat hul werkgewer hulle te na kom met betaling, kan hulle hul naaste arbeidskantoor besoek, waarna ondersoek ingestel sal word. Die saak word dan verkieslik deur die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie (CCMA) hanteer weens die hoë koste van arbeidshofsake,” het Thejane gesê.

“Dit is veral belangrik dat werkgewers werkloosheidsversekering vir hul werkers uitneem in terme van die wet en om werkers stiptelik te betaal.”

Die implementering van die gewysigde wetsontwerp sal in die Staatskoerant gepubliseer word. Tot dan word die status quo gehandhaaf en verdien huiswerkers steeds R15 per uur, plaaswerkers R18 per uur en werkers wat deel is van die uitgebreide openbare werke-program (EPWP) R11 per uur.

Related Articles

Back to top button