Local newsNews

Laat daar LIG wees

“As jy in jou huis sit en warm kry, gaan kyk eerder liggies!”

Dit flikker en vonkel in De Beerstraat 12 in Modimolle.

Die Abraham Kriel-kinderhuis se Kersliggies is aan die brand en hulle nooi die gemeenskap om na die helderkleurige skouspel te kom kyk.

Die kinderhuis het vroeër vanjaar ’n groot skenking van Kersliggies van ’n ouetehuis in die Kaap ontvang. Hulle het besluit om by Jakaranda-kinderhuis in Pretoria te leer en ’n Kersliggiefees aan te bied.

“Dit gebeur orals in die land dat kinderhuise Kersliggies gebruik om geld in te samel,” het Gerda van der Merwe, hoof van die kinderhuis, verduidelik. ’n Kinderhuis in Potchefstroom het ’n soort-gelyke projek. “Die ander kinderhuise, wat hul feeste al bykans 10 jaar lank aanbied, lok ’n ongelooflike groot hoeveelheid mense. Ons hoop ons fees groei ook jaarliks sodat dit ’n goeie inkomstebron kan wees.”

Kinderhuise landwyd se finansiële las is swaar. Die Pos het in 2015 berig dat verskeie kinderhuise in ’n geldelike krisis beland het nadat die onderskeie provinsies se regerings versuim het om subsidies betyds te betaal.

Die kinderhuise self het verskeie projekte geloods om geld in te samel om op te maak vir die tekorte.

“Ons ontvang R2 500 per kind per maand van die regering af. Dit kos ons egter ongeveer R5 400 per kind as ons al die onkoste vir die instandhouding van geboue, mediese dekking, personeel, vervoer, elektrisiteit en ander uitgawes inreken. Dit beteken dat ons elke maand sowat R2 900 per kind te min het,” het Van Der Merwe verduidelik.

Die kinderhuis het jaarliks ’n tekort van ongeveer R1,4 miljoen.

“Ons is baie opgewonde oor die Kersliggie-projek en wil baie graag hê die gemeenskap en besoekers in die omgewing moet deel daarin. Die meeste kinders het Sondag na hul huise vertrek vir die Desember-vakansie, maar ons het seker gemaak dat ons die liggies vooraf aan-skakel en hulle deel van die projek maak. Die personeel werk baie hard in dié tyd, maar dit skep ’n lekker gees op die terrein,” het sy gesê.

“Ons is gerat vir beurtkrag. Ons liggies is aan ’n kragopwekker gekoppel en hoewel dit eksta koste meebring, gaan ons voort met die projek. As jy dus in jou huis sit en warm kry, gaan kyk eerder liggies!”

Die kinderhuis hou op Vrydag, 14 Desember ’n “Carols by Candle Light” waar Kersliedere by kerslig gesing sal word.

Die ingangsfooi beloop R10 en voor-skoolse kinders kry gratis toegang. Vir meer inligting skakel tel. (014) 717 5264.

Related Articles

Back to top button