Local newsNews

Inwoners se moed sak in hul skoene oor beurtkrag

Wat ookal die redes vir die ontwrigtende kragonderbrekings is, die kalf is in die put.

Inwoners kners op hul tande.

Benewens ’n hittegolf, trotseer hulle ook beurtkrag en watertekorte weens die erge droogte. Vanjaar was in vele opsigte nie ’n maklike jaar nie.

Die kragreus Eskom het die afgelope week landwyd skedule twee-beurtkrag toegepas. Luidens Eskom se webwerf is dit noodsaaklik weens ’n hoë vraag na elektrisiteit en onderhoudswerk wat aan kragstasies gedoen moet word. Die nasionale media het sonder skroom die blaam voor die deur van die Gupta-familie gelê wie se maatskappy, Tegeta Resources and Energy, na bewering vier miljoen ton steenkool te min aan Eskom verskaf het hoewel hulle daarvoor betaal is.

Doemprofete reken dat die land sy vere moet regskud vir uitgerekte beurtkrag.

Wat ookal die redes vir die ontwrigtende kragonderbrekings is, die kalf is in die put. Winkelsentrums is in skemerte gehul en handelaars sonder kragopwekkers sluit hul deure om diefstal te verhoed. Talle winkels kan slegs kontanttransaksies doen en wys ander klante weg.

“Dít kry ons onder tydens beurtkrag, sê lesers.”

Selfoongroepe gons oor wanneer die krag sal af wees. “Ons wil vooruit beplan, maar daar word nooit by die skedules vir krag- of wateronderbrekings gehou nie,” het een van die inwoners gekla. Sakelui het gesê as die skedule betroubaar toegepas word, kan hulle hul ondernemings beter bedryf.

Vir Modimolle, wat weke lank met watertekorte worstel, is Eskom se besluit om beurtkrag toe te pas ’n dubbele slag. Die dorp ontvang die afgelope week reeds beurtwater. Die kragonderbrekings gooi egter die waterskedule omver.

“Beurtkrag het ’n dramatiese invloed op waterverskaffing. Ons het geen rugsteunkragopwekkers by die pompstasies of rioolstasies nie en as die hele omgewing se krag afgeskakel word, kan ons nie water pomp nie,” het Marlene van Staden, burgemeester gesê. “As dit vir twee en ’n half uur af is, veroorsaak dit ’n vier na vyf uur lange oponthoud in waterverskaffing. Wanneer die pompe ophou pomp, vloei die water terug in die pype. Daar is kleppe in om dit te verhoed, maar nie oral nie.”

Die afgelope weke is verskeie afleweringsvoertuie wat hooggelaai is met plastiekwatertenks in die dorp se hoofstraat gesien. Talle inwoners gaan die ekstra onkoste aan om hulself toe te rus vir tye wanneer hulle nie munisipale water ontvang nie.

  • Verskeie selfoontoepassings (apps) poog om die verrassingselement uit beurtkrag te haal. Inwoners kan deur so ’n toep af te laai, hulself beter voorberei.

Related Articles

Back to top button