Local newsNews

Bekende slangvanger verruil Bosveld vir stadsgewoel

Cor Viljoen, bekende slangvanger en –kenner, het die afgelope week die Bosveld gegroet en na Gauteng verhuis.

Viljoen was die afgelope paar jaar die “slangman” van die ATKV Klein-Kariba-oord buite die dorp. Volgens hom is hy al vir 20 jaar in die slangbedryf.

Inwoners sal hom onthou as die man wat altyd bereid en beskikbaar was om slange by wonings, erwe en op plase te vang en in die natuur te hervestig.

Viljoen het aan Die Pos gesê hy het ’n pos by die African Reptiles and Venom Centre in Diepsloot aanvaar. Hy gaan onder meer inligtingskursusse oor slange aanbied en die bewaring van slange by die publiek tuisbring. Sy visie is dat alle mense ’n kopskuif oor die waarde van slange sal maak.

Die sentrum is gestig deur die bekende slangkenner Mike Perry.

Viljoen sal ook by die sentrum se teengif-afdeling betrokke raak waar hul giftige slange “melk” en dié gif dan gebruik om teengif te ontwikkel en vervaardig.

“Ek het regtig baie kennis in my tyd op Klein-Kariba opgedoen en is veral dankbaar teenoor hierdie gawe gemeenskap,” het hy gesê.

“Ek hoop Bela-Bela se inwoners sal aanhou om slange te bewaar, want as hulle doodgemaak word, volg plaagdiere. Mambas en ander giftige slange wat summier van kant gemaak word uit vrees, kon eerder gevang en aangewend word om teengif te maak.”

Mense van Bela-Bela wat slange by hul eiendomme wil laat verwyder, kan voortaan een van die volgende mense bel: Ruan Venter by tel. 073 854 8415 of tel. 084 679 7774 of Rudi Janse van Vuuren by tel. 082 337 9635.

Related Articles

Back to top button