Local newsNews

Minister loof Fedsas vir betroubare vennootskap

’n Sterk fokus op gemeenskapsbetrokkenheid is ’n sleutelaktiwiteit waaraan die regering en die departement van basiese onderwys tot dusver nie genoeg aandag gegee het nie.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het die afgelope week gesê beleidsverandering en institusionele herstrukturering was tot dusver die kernfokus van die departement.

“Gevolglik het ons nie daarin geslaag om gemeenskappe by basiese onderwys te betrek tot die mate wat nodig is vir openbare skole om suksesvol te funksioneer nie. Daar is steeds ’n groot gaping tussen funksionerende en wanfunksionerende skole.”

Motshekga was die hoofspreker op ’n galadinee ter viering van die 25ste bestaansjaar van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), wat op Vrydag 23 November in Bloemfontein plaasgevind het. Motshekga het na Fedsas as ’n “betroubare en gerespekteerde onderwysvennoot verwys en gesê samewerking van hierdie aard is wat nodig is om ouers en die breër skoolgemeenskap by onderwys betrokke te kry. Sy het gesê die regering het basiese onderwys as ’n topprioriteit verklaar, maar dat toegewyde en kundige onderwysleiers nodig is om in hierdie doelwit te slaag.

Motshekga het Fedsas geloof vir die werk wat die organisasie doen om skoolbeheerliggame, en sodoende skoolgemeenskappe, toe te rus.

“Die sukses wat julle behaal het, is ’n bewys dat Suid-Afrikaners kán saamwerk tot voordeel van ons land.”

Fedsas se nasionale voorsitter, Erhard Wolf, het in ’n mediaverklaring gesê Fedsas en die departement van basiese onderwys se siening van die belangrike rol van onderwys in ’n ontwikkelende samelewing stem ooreen.

Fedsas het nog altyd die standpunt gehuldig dat samewerking tussen rolspelers die sleutel tot sukses is. Dit is daarom goed om te hoor dat Motshekga hierdie mening met ons deel en waardering het vir Fedsas se rol.”

Fedsas se uitvoerende hoof, Paul Colditz, het beaam dat onderwys ’n spansport is.

“Wanneer rolspelers op beleid- en bestuursvlak saamwerk, sal samewerking tussen ouers en skoolbeheerliggame, asook skole en skoolgemeenskappe, die logiese uitvloeisel wees.”

Colditz het Motshekga bedank vir die positiewe professionele verhouding wat daar tussen haar departement en Fedsas bestaan.

Fedsas se visie is om gehalte-onderrig in openbare skole te bevorder. Omdat hierdie visie die maatstaf is vir al ons besluite en aktiwiteite, behaal Fedsas sukses as ’n leier in skoolbeheer en –bestuur en geniet die organisasie die respek van ander onderwys-rolspelers,” het Colditz gesê.

“Natuurlik het rolspelers verskillende doelwitte, maar die eindbestemming moet dieselfde wees. Oor die jare het Fedsas daarin geslaag om aan te pas by verandering sonder om die eindbestemming uit die oog te verloor. Dít sal altyd ons benadering bly.”

Related Articles

Back to top button