Local newsNews

AfriForum-tak hou nabetragting

“Ons kon nie toesien dat landbougrond vir dorpsontwikkeling gebruik word nie en die munisipaliteit het ook nie die nodige infrastruktuur hiervoor nie.”

Die AfriForum-tak in Mookgophong het op Saterdag 24 November hul laaste vergadering vir 2018 gehou en toe ook sommer van die geleentheid gebruik gemaak om lekker vleis te braai en tot laataand om die vuur te kuier.

“Die doel van die afsluitingsvergadering was om terug te kyk na die tak se projekte in 2018,” het Philip van Staden, voorsitter, gesê.

AfriForum het die jaar afgeskop met die herstel van slaggate in die dorp en het 404 sakkies teer daarvoor gekoop. Hiervan is 150 sakkies aan die plaaslike munisipaliteit geskenk om slaggate te herstel.

Die tak het voorts baie sterk standpunt ingeneem teen die beoogde dorpsontwikkeling vir ’n myn naby Tobias, net buite die dorp. Ná AfriForum se teenkanting is die projek gestaak.

“Ons kon nie toesien dat landbougrond vir dorpsontwikkeling gebruik word nie en die munisipaliteit het ook nie die nodige infrastruktuur hiervoor nie. Ons het voorsien dat die ontwikkeling tot baie probleme vir die omliggende boere sou lei,” het Van Staden gesê.

In Februarie het AfriForum ’n hofsaak teen die munisipaliteit gewen oor die stortingsterrein in Mookgophong. Volgens Van Staden bly die munisipaliteit in gebreke om die hofbeslissing na te kom en word regsaksie vroeg in die nuwejaar dus beoog.

Die tak het ook vanjaar ’n projek geloods om die ou begraafplaas wat oorgroei is met gras en onkruid, skoon te maak. Onkruiddoder is aangewend en die heining om die begraafplaas is gesnoei.

Voorts het hulle in Mei verkeersstrepe by die laerskole in die dorp oorgeverf en ook in Julie die sypaadjies in Nelson Mandelaweg skoongemaak en die gras gesny. Die tak het gesorg dat oorhangtakke by Hoërskool Hans Strijdom gesny word om plek te maak vir die busse tydens die dorp se bekende Bokkieweek.

Met die droogte op almal se lippe, het AfriForum in September van plaaslike kontrakteurs gebruik gemaak om opgraderingswerk aan die dorp se boorgatpompe en pompstasie te doen en hulle het ook twee laste aan die munisipaliteit se waterafdeling voorsien sodat ’n groot lekkasie op die hoofpyplyn vanaf die Frikkie Geyser-dam herstel kon word.

Die tak het in September bome aan skole in Mookgophong geskenk vir nasionale boomplantdag en in Oktober het die tak tien stoptekens gekoop en aan die verkeersafdeling geskenk.

“Ons sluit 2018 af met die koop van 200 sakkies teer om die Rondalia-pad (R520) se slaggate te herstel. Die pad behoort binne die volgende week of twee weer veilig te wees.”

Volgens Van Staden het die AfriForum-tak die afgelope jaar meer as R150 000 teruggeploeg in die Mookgophong-omgewing.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button