Local newsNews

Vyf sterf in gru-ongeluk by Vaalwater

Die slagting op die paaie in die Waterberg duur voort, met vyf inwoners van die Vaalwater-omgewing wat in nóg ’n verwoestende motorongeluk gesterf het.

’n Minibustaxi wat op Donderdag 15 November vanaf Vaalwater in Modimolle se rigting op die R33-pad gery het, was in ’n botsing reg van voor met ’n vragmotor van Spif Chickens van Mookgophong betrokke, het AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, aan Die Pos gesê.

Die bestuurder van die vragmotor het volgens Findlay vermoedelik beheer oor die voertuig verloor.

’n Nadoodse ondersoek sal bepaal of ’n hartaanval of beroerte moontlik die oorsaak kon wees.

Vier insittendes van die minibus en die bestuurder van die vragmotor is op die toneel dood. Die ander 10 passassiers is na die F.H. Odendaal-hospitaal in Modimolle vir behandeling geneem. Die trefkrag van die slag het die minibus se linkerkant verfrommel en die vragmotor het op sy dak te lande gekom.

Die Pos het verlede week berig oor die ontstellende dodetal in ongelukke op die N1-snelweg in die Middelfontein-omgewing. Die Vaalwaterpad met sy kronkels en min plek om verby te steek, is ook bekend as een van die gevaarlike paaie in die gebied.

Die oorledenes in die ongeluk is Amos Nkwele Mongana (52), Leburu Essie Modise (32), Modibe Simon Modiba (52) en Mahabo Christopher Sebolai (39). Die polisie is steeds op soek na die familie van die vyfde oorledene en maak daarom nie sy identiteit bekend nie.

Sebolai, wat sy eie onderneming in Vaalwater gehad het, is die jonger broer van Sechele Sebolai, wat voorheen raadslid en speaker van die Modimolle-munisipaliteit was. Hy laat sy ma Josephine, broers Sechele, Johannes en Phillimon, sowel as drie dogters en ’n seun tussen die ouderdom van ses en 18 jaar agter.

Teen druktyd was daar nie meer inligting oor die ander oorledenes beskikbaar nie.

Related Articles

Back to top button