Local newsNews

Taakspan bekyk dodelike ongelukke op N1-snelweg

Meer as 40 sterf in een maand naby die Kranskop-tolhek,

Die rits ongelukke die afgelope maand word deur die provinsiale verkeersdepartement toegeskryf aan menslike nalatigheid, spoed, oormoegheid en roekeloosheid.

Die lewensverlies die afgelope maand in motorongelukke op die N1-snelweg naby die Kranskop-tolhek neem skokkende afmetings aan.

Dié dodelike hoofweg het die week weer minstens vyf lewens geëis.

Altesame 40 mense is reeds die afgelope maand op dié berugte pad dood en tientalle ander is met ernstige beserings in hospitale opgeneem.

Die afgelope naweek het ’n beweerde mislukte rooftog tot ’n grusame botsing gelei waarin vyf mense, wat op pad na ’n begrafnis was, dood is. Dit het gebeur nadat ’n vragmotor glo op Saterdag 10 November op die N1-snelweg net noord van die Kranskop-tolhek onklaar geraak het. Dit is naby aan die plek waar 26 mense vroeër die maand in ’n reuseongeluk dood is.

Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, het die bestuurder van die voertuig uitgeklim om die meganiese probleem te herstel. Hy het terug in die vragmotor geklim en dit aangeskakel toe twee mans aan weerskante van die vragmotor op hom toegesak en sonder waarskuwing begin skiet het.

“Die bestuurder het geskrik en dadelik weggetrek. ’n Toyota Tazz het die vragmotor van agter getref. Ons vermoed dat die bestuurder van die vragmotor gedink het dit is deel van die rooftog,” het Findlay gesê.

Die vragmotorbestuurder het reguit na die polisiestasie in Mookgophong gery.

“Die passassiers van die voertuig, wat in die middelste baan van die snelweg gestrand was, het uit die voertuig geklim en ’n aankomende minibus en nog ’n voertuig het hulle getref. Vyf mense het op die toneel gesterf en nog ’n persoon wat beseer is, is later in die hospitaal oorlede,” het hy gesê.

Die slagoffers sluit ’n sewe maande oue baba en twee kinders van vyf en agt jaar oud in. Die ander twee oorledenes was vroue van 70 en 40 jaar oud. Daar was nog drie insittendes in die voertuig. Hulle was glo van Soweto op pad na ’n begrafnis in Polokwane.

Die rits ongelukke die afgelope maand word deur die provinsiale verkeersdepartement toegeskryf aan menslike nalatigheid, spoed, oormoegheid en roekeloosheid.

Stanley Chupa Mathabatha, premier van Limpopo, het die provinsie se polisiekommissaris, genl. Nneke Ledwaba, gevra dat ’n taakspan gevalle van misdaad langs die snelweg ondersoek, het Kenny Mathivha, sy woordvoerder, aan Die Pos gesê.

Die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, Makoma Makhurupetje, het haar meegevoel teenoor die gesinne uitgespreek en bestuurders gewaarsku om binne die spoedgrense te hou.

’n Biddag word op Sondag 18 November by die Ephraim Mogale-stadion in Phagameng gehou waartydens daar spesifiek gebid sal word vir die veiligheid van motorryers op die N1-snelweg. Dit sal bygewoon word deur dr. Blade Nzimande, die minister van vervoer, Mathabatha en leraars van verskeie gemeentes. Daar sal ook langs die snelweg gebid word.


  • Twee mense sterf nadat ’n Ford Ranger-bakkie op Vrydag 9 November van agter in ’n Hyundai-bakkie wat langs die pad gestaan het, vasgery het. Die ongeluk het op die N1-suid naby die Codrington-afrit gebeur.
  • Vier mense sterf op Sondag 4 November om 01:15 in ’n ongeluk op die N1 tussen Middelfontein en Mookgopong. ’n BMW-sedan wat in ’n suidelike rigting ry, bots teen ’n aankomende vragmotor. Die motor se vier insittendes sterf en nog twee mense word ernstig beseer.
  • ’n Passassier (23) in ’n Polo-sedan sterf op Saterdag 3 November om 15:00 en die bestuurder en twee ander passassiers word ernstig beseer in ’n ongeluk sowat 5 km noord van die Kranskop-tolhek. Die sedan tref vermoedelik ’n Scania-vragmotor van agter.
  • Elf mense word ernstig beseer op Vrydag 2 November op die N1-Suid naby die Kranskop-tolhek. ’n Toyota-minibus ry in die vroeë oggendure agter in ’n vragmotor vas.
  • Ses mense sterf op Vrydag 26 Oktober naby die Kranskop-tolhek nadat ’n Kia-sedan wat van Tembisa na Mokopane op pad is vir ’n troue, teen ’n Ford-bakkie bots. Al die oorledenes is van dieselfde familie. Die ongeluk gebeur op bykans dieselfde plek waar 26 mense vroeër dood is.
  • Die bestuurder van ’n Nissan-bakkie sterf op Vrydag 26 Oktober nadat hy vermoedelik ’n U-draai by die Mookgophong-afrit maak en ’n Mercedes Benz-sedan hom tref.
  • Altesame 27 mense sterf in ’n gru-ongeluk op Vrydag 19 Oktober naby die Kranskop-tolhek tussen Modimolle en Mookgophong. ’n Sementtrok se bestuur-der verloor vermoedelik beheer en ploeg in vier voertuie wat in die noordelike rigting ry in. ’n Minibus met 22 sitplekke en ’n Nissan NP200-bakkie slaan aan die brand. Vier mense oorleef wonderbaarlik die ongeluk.

Related Articles

Back to top button