Local newsNews

Onbewoonde huise hou brandgevaar in

Een van die huise is deur kwaaddoeners aan die brand gesteek en het byna na ’n buurman se eiendom versprei.

Verskeie onbewoonde huise in Mookgophong hou ’n brandgevaar in en bied ook skuilplek vir misdadigers.

Só sê Kobus van Loggerenberg, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in die dorp.

Een van die huise in 4de Straat se “tuin” is op Saterdag 20 Oktober deur kwaaddoeners aan die brand gesteek en het byna na ’n buurman se eiendom versprei.

Charl Heymans en Willie Beukes het vinnig ingespring om die brand te blus voordat dit kon versprei. Die verwaarloosde huis, wat na bewering aan die polisie behoort, staan al bykans vier jaar onbewoon, is erg verwaarloos en het ook onder vandale deurgeloop. Vensterruite is stukkend gegooi en die voordeur is beskadig.

Daar is verskeie ander onbewoonde huise in die dorp en sommige is bouvallig.

Volgens Philip van Staden, AfriForum-voorsitter, is dit die munisipaliteit se verantwoordelikheid om op te tree teen eienaars wat nie hulle leë geboue in stand hou nie. Van Staden het ook gesê dat ge-bruikte naalde en oorblyfsels van dwelmmiddels in die betrokke huis gevind is.

Die Pos het verskeie pogings aangewend om vas te stel wie verantwoordelik vir die betrokke huis se instandhouding is, maar kon nie die persoon of instansie opspoor nie. Volgens ’n lid van die polisie, wat anoniem wou bly, is dié betrokke huis se instandhouding die verantwoordelikheid van die departement van openbare werke.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button