Local newsNews

Hierdie vrou se hande staan vir niks verkeerd

Op 75-jarige ouderdom kyk Sarie Uiterwijk van Bosveldsig in Modimolle terug op ’n propvol lewe.

Sy word in haar huis omring deur kreatiewe skeppings wat sy behendig aanmekaar geslaan het. Haar eetkamertafel en -stoele, buffet, bedkopstukke en verskeie ander meubelstukke se kartels het sy self uit die hout gekerf. Die gans- en volstruiseiers wat fyntjies met Delftpatrone geverf is, het sy tydsaam só opgedollie. Teen haar mure hang borduurwerk, loodglaswerk en skilderye — die vrug van haar besige hande.

Uiterwijk, wat 40 jaar lank lid van die Vroue Landbou-unie (VLU) was, was jaar ná jaar ’n uitblinker met haar handwerk. Die Pos het met haar gesels vir vandeesmaand se uitgawe van die Bejaarde van die Maand-rubriek.

Waar is jy gebore en getoë en hoe lank woon jy al in die dorp?

Ek is in Potchefstroom gebore en het op ’n plaas in Ventersdorp grootgeword. Ek en my man, Gerard, het in Roodepoort gewoon voordat ons 14 jaar gelede na Modimolle verhuis het.

Wat is die grootste verandering wat jy in jou leeftyd beleef het?

Dit was vir my baie moeilik om van die plaas af dorp toe te trek. Dit was ’n groot aanpassing.

Wat is die een les wat die lewe jou geleer het?

Ek het 17 jaar lank klas in houtsneewerk gegee, maar moes ophou weens ’n tenniselmboog. Ek neem nie meer deel aan die VLU-kompetisies nie.

Ek dink die belangrikste les is as ’n mens nie meer met een ding kan aangaan nie, moet ’n mens iets anders kry om jou positief te hou. ’n Mens moenie tot stilstand kom nie.

Wat is jou gunstelingboek?

Ek is nie ’n leser nie, want my hande moet die heeltyd besig bly.

Wat was die onvergeetlikste reis wat jy in jou lewe onderneem het?

Beslis my reis na Noorweë. Ek kry sommer hoendervleis. Ek en my oorlede man het 27 verskillende lande besoek, maar Noorweë was my gunsteling met sy natuurskoon en onvergeetlike middernagson.

Ons het ’n maand lank deur die land gery. Gerard was ’n Hollander en ons het elke tweede jaar sy familie besoek en dan ’n ander lugredery geneem sodat ons die wêreld kon sien. Ons het na die Passiespele in Oostenryk gaan kyk, ongelooflike Kersliggies in Singapoer gesien en lande soos Israel, Griekeland, Burma, Bali en Thailand besoek. Ons het tussendeur ook Suid-Afrika platgery.

As jy jou hartsmense moet nooi vir ete, wat sal jy voorsit?

Ons het nooit kinders gehad nie en ek het nie baie familie nie. Ek sou wildsvleis met stampmielies voorsit — dit is my gunsteling.

Related Articles

Back to top button