Local newsNews

‘Dokter! Dokter! Hoe vang mens ’n baba?’

“Dit was regtig ’n asemrowende ervaring. Ek sal dit vir die res van my lewe saam met my dra”.

Annalie Dykema, provinsiale bestuurder van die nasionale verteenwoordigende organisasie vir beheerliggame (Fedsas) en bekende inwoner van die Springbokvlakte, kan nou ook die benaming “vroedvrou” op haar CV skryf.

Volgens Dykema het ’n plaaswerker vroeg op Vrydag 9 November histeries by haar en haar man, Willie, se huis opgedaag en vertel dat een van die ander werkers se 18-jarige dogter in kraam gegaan het.

Dié jong vrou, Onnica Mabuya, se baba is eers in Desember verwag.

 

Annalie Dykema, provinsiale bestuurder van Fedsas het gehelp om ’n pasgebore babadogtertjie se lewe te red.

 

Die werkers het reeds ’n ambulans ontbied, maar dié was nog nêrens in sig nie.

“Ek en Lina Sithole, my huiswerker, het net handdoeke en skêre gegryp en na die huis gehardloop. Toe ons daar aankom, was die babadogtertjie reeds voete eerste gebore, maar sy het nie asem gehaal nie,” het Dykema aan Die Pos vertel.

Dykema en Sithole het Mabuya so gemaklik as moontlik gemaak. Hulle het besef dat die naelstring nog aan die lewelose lyfie van die baba geheg was.

“Ek het dadelik vir dr. Gerhard Grobler in die dorp gebel en hy het my oor die telefoon gehelp met dit wat ek moes doen. Uiteindelik het ons met sy hulp die naelstring afgebind en geknip.”

Ná ’n senutergende tydjie wat hulle alles moontlik probeer het om die baba se longetjies aan die werk te kry, het die baba haar eerste snikkende asemteug geneem. “Dit het soos ure gevoel terwyl ek voetjies vryf en die boudjies klop,” het Dykema vertel. “Ek het elke boereraat, truuk en loutere instink gebruik.”

 

Op die foto (links) is Onnica Mabuya, die ma, saam met haar pasgebore kind, genaamd Annalie.

 

“Al waar ’n mens dié soort ding sien afspeel, is op televisie. Ek was nog altyd skrikkerig daarvoor dat iemand my eendag sal kom roep vir sulke noodgevalle. Dit was egter ongelooflik om te sien en te ervaar hoe die Here my hande geneem en dit gelei het.”

Die ambulans het uiteindelik op die plaas aangekom en Mabuya is na ’n plaaslike hospitaal geneem. Volgens Dykema was die paramedici veral beïndruk met die manier hoe sy en Sithole die situasie hanteer het.

Dykema is baie dankbaar teenoor Grobler vir sy hulp en ondersteuning.

Volgens Dykema het die baba se ouers besluit om die kleinding, heel gepas, Annalie te noem.

“Dit was regtig ’n asemrowende ervaring. Ek sal dit vir die res van my lewe saam met my dra,” het ’n aangedane Dykema aan Die Pos gesê.

Teen druktyd het dit goed met ma en baba gegaan.

Related Articles

Back to top button