Local newsNews

Inwoners moedeloos — steeds geen oplossing vir Modimolle se watertekort

Die dorp se opgaardamme is steeds leeg en die boorgate wat deur ’n onderneming geskenk is, was steeds nie deur die munisipaliteit toegerus om water aan omliggende inwoners te verskaf nie.

Daar is steeds geen oplossings vir die watertekort op Modimolle nie.

Die Pos het verlede week berig dat van die inwoners reeds weke lank sonder lopende water moet klaarkom terwyl ander dele van die dorp se water met tye onderbreek word. Hoewel ligte reënbuie teen Woensdag 7 November uitgesak het, het dit nie naasten-by die probleem verlig nie.

Vandeesweek was die dorp se opgaardamme steeds leeg en die boorgate wat deur die onderneming Nylstene geskenk is, was steeds nie deur die munisipaliteit toegerus om water aan omliggende inwoners te verskaf nie.

Vroeër is berig dat Jeremiah Ngobeni, burgemeester van Bela-Bela, daartoe ingestem het dat sy dorp se krane snags toegedraai kan word sodat Magalies Water meer water aan Modimolle kan verskaf. Bela-Bela sou in dié tyd water uit hul reservoirs en dorpsdam gebruik.

Volgens Marlene van Staden, burgemeeser van Modimolle-Mookgophong, het Ngobeni egter intussen van plan verander en gesê Bela-Bela kan nie bekostig om water af te staan nie.

“Ons probeer om ’n dringende vergadering met dié munisipaliteit te belê om die saak te bespreek,” het sy gesê.

Volgens ’n waterverslag van die munisipaliteit het Magalies Water op Dinsdag 6 No-vember 4,10 megaliter water verskaf.

Van Staden het bevestig dat Magalies meer water as gewoonlik verskaf, wat beteken groter dele van die dorp kon water ontvang.

Die boorgate het net meer as een megaliter water tot die stelsel bygedra. Die opgaardam by die watertoring was leeg, die een wat aan die dorp en middedorp water verskaf, het op 40% gestaan en Phagameng se opgaar-dam op 4,5%, het Van Staden gesê.

Related Articles

Back to top button