Local newsNews

Hof hoor kleuter (5) het haarself waarskynlik per ongeluk geskiet

Die hof het destyds gehoor die oupa het sy handwapen in ’n kas weggesteek, maar die twee spelende kinders het daarop afgekom.

Die geregtelike doodsondersoek na die tragiese skietdood van ’n kleuter van Bela-Bela, Sibongile “Bobo” Mahlangu, is in September — bykans vyf jaar ná haar dood — weer in die Bela-Bela-landdroshof aangehoor.

Bobo is in Augustus 2013 op ’n privaat natuurreservaat buite Bela-Bela dood.

Daar is destyds bevind die vyfjarige Bobo is in die gesig getref deur ’n koeël uit ’n .38 Special-rewolwer. Bobo en ’n maatjie het in die slaapkamer van die maatjie se oupa en ouma op die reservaat gespeel toe die ongeluk gebeur het. Die rewolwer het aan die maatjie se oupa behoort. Die maatjie was ses jaar oud.

Daar is destyds wyd beweer, hoewel dit nooit amptelik bevestig is nie, dat die maatjie per ongeluk vir Bobo doodgeskiet het.

In nuwe getuienis wat nou voor die hof gebring is, word egter beweer dat Bobo haarself moontlik per ongeluk geskiet het.

Die name van die oupa en ouma, asook dié van hul kleindogter, word weerhou om die identiteit van die kind te beskerm.

Albei gesinne het sedert die voorval ongekende trauma beleef. Nóg ’n tragedie het Bobo se ouers, Tina Mahlangu en Piet Moima, getref toe hulle oudste dogter, Lebogang Mahlangu (18), in Augus-tus 2016 oorlede is. Lebogang het aan hidrosefalus (vog op die brein) gely.

Sy het egter ’n vol lewe gelei en was ten tyde van haar dood ’n leerder van Academia Private School in die dorp.

Die oupa en ouma van die ander kind het as gevolg van die tragedie die reservaat, waar hulle jare gebly het, verlaat en hul kleindogter en haar gesin is baie diep getref deur die trauma.

Die hof het destyds gehoor die oupa het sy handwapen in ’n kas weggesteek, maar die twee spelende kinders het daarop afgekom.

Die oupa is in Augustus 2014 tot 12 maande se korrektiewe toesig gevonnis nadat die hof hom skuldig bevind het aan nalatigheid in die hantering van sy vuurwapen. Hy het reeds hierdie vonnis uitgedien, het Die Pos vroeër berig.

Die direkteur van openbare vervolging (DOV) het in Julie 2016 ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat daar besluit is om die saak te hersien. Die verrigtinge het in Augustus begin, waarna getuienis van verskeie betrokkenes aangehoor is.

Lt.kol. Leoni Sevenster van die polisie se forensiese eenheid het in die hof getuig dat hulle deur hul ondersoek gevind het dat kruitresidu ná die voorval op Bobo se handjie gevind is, maar nie op die hand van die kleindogter van die oupa nie.

Kapt. Hendriena Blignaut, ’n forensiese ontleder wat ook verbonde is aan die forensiese afdeling, het getuig dat die waarskynlikste scenario wat afgespeel het, was dat Bobo op die bed gesit het met die vuurwapen in haar hande, die loop was op haar gerig en die vuurwapen is afgevuur.

Die koeël het vermoedelik opwaarts deur haar gesiggie getrek, het sy getuig.

Die saak het weer op Donderdag en Vrydag 27 en 28 September vanjaar in die hof voortgeduur.

In die nuutste verwikkeling van die geregtelike ondersoek is daar ’n dispuut of die beeldmateriaal wat van die toneel geneem is as getuienis in die saak gebruik mag word.

Die saak is uitgestel na Maandag 19 November vir verdere getuienis.

Related Articles

Back to top button