Local newsNews

Haelspoor loop deur die Waterberge

Vensterruite van woonhuise is deur die hael stukkend geslaan en in Settlers is die dak van die boeresaal afgewaai.

’n Reusehaelstorm het Vaalwater en die Springbokvlakte buite Bela-Bela op Donderdag 1 November getref met haelkorrels so groot soos gholfballe.

Volgens die Suid-Afrikaanse weerburo het ’n kouefront van KwaZulu-Natal tot in die Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga en Limpopo beweeg, wat gevolg is deur erge donderweer, hael en sterk wind.
Boere se oeste en inwoners se wonings het onder die hael deurgeloop.

Volgens inligting van die Waterberg distrikslandbou-unie (DLU) het boere in Lehau, Radium en tot in die Tuinplaas-omgewing erge haelskade beleef. Volgens die DLU het 25 mm reën in ’n kort tydjie in dié omgewing uitgesak.

 

Die hael het op Donderdag 1 November ’n spoor van verwoesting oor Vaalwater gelaat. Baie skade is aangerig en inwoners het groot geskrik toe die gholfbalgrootte haelkorrels val. Hier wys ’n inwoner hoe groot die hael was.

 

Maritz Grobler, ’n boer op die Springbokvlakte en voorsitter van die Settlers-buurtwag, het gesê die hael het erge skade aan mielie- en groentelanderye veroorsaak. Van die landerye was nie verseker nie.

Hy het voorts gesê selfs vensterruite van woonhuise is deur die hael stukkend geslaan.

In Settlers is die dak van die boeresaal afgewaai.

Volgens die DLU het die Leeupoort-, Modimolle-, Loubad- en Mabula-omgewing geen hael gehad nie, maar wel tussen 7 en 20 mm reën. In Modimolle is 6 mm gemeet, in Loubad 13 mm en in Mabula 25 mm.

Inwoners van Rivieroord en Uitbreiding 1 in Vaalwater se woonhuise het erg deurgeloop tydens die storm. Van die sinkdakke was nie bestand teen die groot haelkorrels nie.

Rebecca Mpepele, onderwyser en huurder in Vaalwater, het gesê sy het enkeldiep in die water in haar huis gestaan nadat die gebuigde sinkplate die water in die huis laat stroom het.

Piet Dietle, wat ook in die township woon, het gesê die wind was boonop baie sterk. Die wind het ’n groot boom omgewaai, wat op Christina Fatlana, ’n huiswerker, se huis geval het.

Petro Raubenheimer, onderwyser en eienaar van Mapieta-padstal, het aan Die Pos gesê hoewel haar tuin deurgeloop het, was daar minder skade as tydens verlede jaar se groot storm in die omgewing.

Inwoners van die Bakkerspas-omgewing het gesê die wind het die haelstorm vanuit ’n suidelike rigting aangedryf. Die meeste strukture het skade aan die suidekant opgedoen.

Elsabé Stegmann het gesê selfs die treinspoor in die omgewing is beskadig en verskeie van die aartappelboere het groot skade gely.

Leerders van Laerskool Vaalwater het vertel dat vensterruite by hul woonhuise stukkend geslaan is.

“Dit was skrikwekkend. Ek het die Here gedank dat ek nie die geweld van ’n tsunami ken nie,” het Isabel Bekker ná die haelstorm gesê.

Juanita Scheepers, wat op die ou Lephalale-pad woon, het gesê hulle het geen hael gekry nie, maar wel ’n welkome 35 mm reën. Die tabakboere in die omgewing het minimale of geen skade aan hul oeste gehad.

Die weerburo het op Dinsdag 6 November ’n waarskuwing uitgestuur dat hewige donderstorms vanaf Bela-Bela tot by Groblersdal kan plaasvind. Inwoners kan vir ’n paar dae hael, donderstorms en sterk wind verwag. Die onstuimige weer sal volgens die weerburo teen Vrydag 9 November in hierdie gebied opklaar.

Related Articles

Back to top button