Local newsNews

Dapper Dawid herstel ná slangbyt

Dawid was vyf jaar oud toe die kobra hom in sy ouers se slaapkamer aan die linkerhand gebyt het. Die slang het onder ’n kussing gelê.

Dit gaan goed met die sesjarige Dawid du Plessis van Vaalwater wat in Januarie vanjaar deur ’n Mosambiekse spoegkobra gebyt is.

Dawid se ma, Retha, het Saterdag, 13 Oktober tydens Laerskool Vaalwater se Leg-A-Thon-byeenkoms, waar sy aan die 5 km-drafitem deelgeneem het, met Die Pos gesels oor die herstelpad wat die gesin die afgelope jaar saam met Dawid gestap het.

Dawid was vyf jaar oud toe die kobra hom op Dinsdag 23 Januarie in sy ouers se slaapkamer aan die linkerhand gebyt het. Die slang het onder ’n kussing gelê. Nadat dokters alles probeer het om die volle gebruik van sy hand te behou, moes sy ringvinger ongelukkig ’n paar weke later geamputeer word. Dié dapper seuntjie het op 5 Junie vanjaar ses geword.

 

Die Mosambiekse spoegkobra is veral aktief tydens bewolkte dae maar meerendeels gedurende die nag wanneer dié slange huise binnegaan en dikwels mense byt terwyl hul slaap. Hierdie slange is aanspreeklik vir die meeste ernstige slangaanvalle in Suid-Afrika maar sterftes is skaars. Gif word na ’n bystaander uitgeskiet en soms maak die slang sy lyf bak. Die gif is sitotoksies wat swelling, blase en in sommige gevalle skade aan weefsel aanrig. Teengif moet so gou moontlik effektief toegedien word om verdere weefselskade te vermy.

 

Volgens Retha moet hulle steeds maandeliks die lang pad na die Montana-hospitaal in Pretoria aandurf vir Dawid se opvolgbesoeke wat, indien alles goed verloop, teen Januarie 2019 tot ’n einde sal kom.

“Dawid dra snags ’n drukhandskoen. Dit help met die bloedvloei en om die swelsel te beheer. Hy moet ook daagliks handoefeninge doen,” vertel Retha. Sy besef nou hoe belangrik die nasorg van ’n slangwond is.

Retha se raad aan mense is om “nooit jou vensters en deure oop te los nie. Kyk altyd onder jou bed en kussing as jy gaan slaap.”

Die Du Plessis-gesin is deur diep waters, maar Retha sê sy glo dat die emosionele skade ná die traumatiese gebeurtenis tot die minimum beperk is. Dawid vertel self dat hy nie kan onthou hoe dit was toe sy vinger nog “daar” was nie.

Hy het skynbaar ’n goeie sin vir humor en reken: “Ons het nou net een probleem: Ek kan net tot by nege op my vingers tel!”

Die gesin het Dawid na Marius Koekemoer, ’n slangkenner in Lephalale, geneem waar hy aan die slange geraak het. Dawid het rustig voorgekom toe hy die slange gestreel het en hulle glo dit ook sal help tot sy emosionele herstelpad.

Terwyl Dawid saam met sy sussie, Megan (12), hul ma aangemoedig het terwyl sy aan die 5 km deelgeneem, het, was dit duidelik dat dié dapper seuntjie vorentoe kyk en ’n gelukkige knapie is.

Related Articles

Back to top button