Local newsNews

Wees op die uitkyk vir gevreesde katgriepsimptome

Die gevreesde siekte katgriep het vermoedelik weer in die Bela-Bela-omgewing opgeduik.

’n Inwoner het dit onder Die Pos se aandag gebring nadat hy onlangs ses klein hondjies by ’n plaaslike inwoner gekoop het. Die vier weke oue honde het kort daarna vermoedelik weens katgriep gevrek, het die inwoner gesê.

Dr. Susanna Herbst, veearts by die Warmbad-dierekliniek, het by navraag gesê katgriep is ’n hoogs aansteeklike virus en kan selfs vir so lank as vyf jaar in ’n omgewing oorleef. Die virus word gereeld in die omgewing aangetref, het sy gesê.

“Die virus kom nie van katte af soos mense altyd dink nie en kan enige plek voorkom. Die virus kan in honde se braaksel of stoelgang voorkom, wat hulle dan van hond tot hond oordra,” het sy gesê.

“Die virus is nie skadelik vir mense nie. Mense kan dit wel aan honde oordra wanneer hulle daarmee in aanraking gekom het. Die virus kan selfs onder mense se skoensole voorkom.”

Die simptome van katgriep is lusteloosheid en honde wat aanhoudend braak en diarree het. Die stoelgang is gewoonlik bloederig, het sy gesê.

Sou die virus ’n erf besmet het, is dit baie moeilik om die area te ontsmet. Daarom moet die hond se beweging op die eiendom beperk word, het Herbst gesê.

Sementhondehokke kan wel ontsmet word met skoonmaakmiddels.

“Klein hondjies behoort op ses, nege, 12 en 16 weke ingeënt te word sodat hulle immuniteit kan opbou teen sulke virusse. Indien die honde nie ingeënt word nie, is hul kanse om te vrek groter.”

Sy het voorts gesê dat sekere honderasse soos rottweilers, worshonde en dobermanns ’n groter risiko het om katgriep op te doen.

“My raad wanneer mense op die virus afkom, is om hul honde dadelik na die dierekliniek te bring. Die beste behandeling is om die dier vir sewe na 10 dae op ’n drup met ’n verskeidenheid behandelings teen braking en diarree te sit, asook antibiotika en elektroliete.”

Die beste voorkoming bly steeds om inentings op die regte tye toe te dien. Die eerste vier inentings is die belangrikste, het sy gesê.

“As kliënte honde koop, moet hulle seker maak dat hulle wel die inentingkaart saam met die hond kry. Daarop word aangedui waar die entings gedoen is en watter entstof gebruik is. Die meeste hondetelers gee eerste inentings voor die hond verkoop word.”

Related Articles

Back to top button