Local newsNews

Voertrokke bring hoop vir boere

“Van die boere in dié gebied het al groot verliese gely weens hul vee wat aan hongersnood vrek,” het hy gesê.

Swaargelaaide vragmotors het onlangs veevoer na die noordelike gebiede in die Waterberge, wat steeds dor en droog is ná ’n teleurstellende reënseisoen, vervoer.

Die burgerregte-organisasie AfriForum, Boere in Nood en georganiseerde landbou het ’n projek geloods om voer in te samel. Nege vragmotors het die afgelope week 1 154 bale voer na boere in droogtegeteisterde gebiede aangery.

Die voer is op verskeie plekke, waaronder Baltimore, Bulgerivier, Steenbokpan, Swartwater, Stockpoort en Beska afgelaai.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, kry boere in daardie omgewing werklik swaar.

“Van die boere in dié gebied het al groot verliese gely weens hul vee wat aan hongersnood vrek,” het hy gesê.

AfriForum het ook R10 000 uit sy droogtefonds beskikbaar gestel om ’n grasveld te laat sny wat ongeveer 200 bale voer sal lewer en aan boere in die omliggende gebiede gestuur sal word.

Die organisasie se takke in Lephalale, Mookgophong, Modimolle, Phalaborwa en Tzaneen het bydraes tot die droogtefonds gemaak.

“Ons vra dat ander organisasies en gemeenskappe die inisiatief sal ondersteun. Ons glo dat enige bydrae van waarde sal wees om die boere se swaarkry te help verlig.
“Ek wil graag al die boere en gemeenskapslede bedank wat tot dusver voer en vragmotors vir die projek beskikbaar gestel het. Ons kan met vrymoedigheid sê dat dit ’n reuseverskil gemaak het. Boere het trane van blydskap afgevee as hulle die voer kom oplaai het,” het Grobbelaar gesê.

Antshill, Afguns en Baviaanskloof moet nog voer ontvang, het hy gesê.

“Ons sal aanhou om voer af te laai totdat die reën opdaag.”

Hyman Cohen, voorsitter van die Waterberg-distrikslandbou-unie, het beaam dat die noordelike dele van die provinsie swaar onder die droogte gebuk gaan.

“Hier in ons gebied is daar meestal nog weiding en ’n mens kan planne maak, maar verder op in Thabazimbi se rigting kry die boere swaar. Die reën is laat en die gras is baie skaars. In die Sentrum-omgewing het boere nog nie van die vorige droogte herstel nie.”

James van Zyl van AfriForum in Modimolle het gesê die vervoerkoste van die voer is een van die knelpunte. “Ons is besig om nog voer bymekaar te maak,” het hy gesê.
Grobbelaar het inwoners aangemoedig om te help. Hulle kan voer skenk, vragmotors beskikbaar stel om voer af te lewer of die woord “droogtehulp” na tel. 38310 SMS om R10 te skenk. Vir groter donasies kan die volgende bankbesonderhede gebruik word: AfriForum NPC, FNB, rekeningnommer 623 4989 9398, Centurion-tak, takkode 261 550.

Vir meer inligting bel vir Grobbelaar by tel. 081 216 9570.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button