Local newsNews

DA het parlement al vroeër op N1-snelweg se hoë sterftesyfer gewys

Altesame 83 mense het in 2014 in ongelukke op dié pad gesterf, in 2015 het 137 mense gesterf en in 2016 het 181 mense op dié pad gesterf.

Die N1-snelweg tussen Bela-Bela en Polokwane lyk verradderlik stil op ’n gewone weeksoggend, maar dié pad het in ’n nagmerrie vir motorryers ontaard. Die afgelope week het 28 mense in ’n gru-ongeluk op dié pad gesterf. Statistieke toon ’n donker prentjie. Altesame 83 mense het in 2014 in ongelukke op dié pad gesterf, in 2015 het 137 mense gesterf en in 2016 het 181 mense op dié pad gesterf. 


Desiree van der Walt, destydse DA-kiesafdelingshoof vir die Waterberg, het in 2017 reeds vrae aan die minister van vervoer gerig oor die hoë sterftesyfers op die N1-snelweg tussen Bela-Bela en Polokwane.

 

Só het die ongelukstoneel op die N1 naby Mookgophong gelyk waarin 28 mense gesterf het.

 

’n Gru-ongeluk ongeveer 20 km buite Mookgophong het op Vrydag 19 Oktober die lewens van 28 mense geëis. Dit is die derde groot ongeluk in drie maande op hier-die pad waarin verskeie mense gesterf het.

 

Pierre en Erika Banjtes, ’n bekende egpaar van Polokwane, is onder die 28 mense wat die afgelope week in ’n gru-ongeluk buite Mookgophong gesterf het. Pierre is ’n oud-Hansie wat op skool veral as spiesgooier uitgeblink het. Foto: Facebook

Volgens Van der Walt het die minister van vervoer gerapporteer dat daar in 2014 altesame 46 noodlottige ongelukke op dié pad was, in 2015 altesame 81 en in 2016 altesame 97. Altesame 83 mense het in 2014 in dié ongelukke gesterf, in 2015 het 137 mense gesterf en in 2016 het 181 mense op dié pad gesterf.

Volgens die minister het ondersoeke getoon die oorsaak van die meeste ongelukke was voertuie wat rol en in die aankomende verkeer beland, botsings reg van voor en ongelukke waartydens voetgangers raakgery word.

Op Van der Walt se vraag oor wat die departement gaan doen om te verseker dat die ongeluksyfer daal en om padgebruikers te beveilig, het die minister geantwoord dat die departement van vervoer met die hulp van die Padverkeerbestuurskorporasie (PVBK) meer verkeersbeamptes op die pad sal ontplooi om sigbaarheid te verhoog. Hulle het ook beoog om motorryers in te lig en op te lei oor padveiligheid.

Ná die jongste ongeluk het die owerhede opnuut beloof om aandag aan die probleem te gee.

Makoma Grace Makhurupetje, LUR vir vervoer in Limpopo, het op dieselfde dag ’n imbizo by die Peter Mokaba-stadion in Polokwane gehou om die hoë sterftesyfer in die provinsie te bespreek en ander probleme uit te wys.

Die byeenkoms is deur sowat 600 taxi-eienaars bygewoon. Sy het gesê samesprekings sal met Sanral en die nasionale regering gehou word om oplossings te vind vir die ongelukke op die N1 tussen die Kranskop-tolhek en Polokwane.

Die vermoede bestaan dat ’n 34 ton-vragmotor, wat van Johannesburg na Elim onderweg was om sement af te laai, se regter voorband gebars het waarna die bestuurder beheer oor die vragmotor verloor en met drie ander voertuie gebots het.

Volgens Gwen Bradbury, een van die eienaars van die betrokke vervoermaatskappy, is daar egter nog nie sekerheid oor wat die oorsaak van die ongeluk was nie en die maatskappy het ’n forensiese ondersoekspan op die toneel gehad wat op Donderdag 25 Oktober ’n verslag sal vrystel. Aubrey Chune, bestuurder van die vragmotor, het in die ongeluk gesterf.

Bradbury het gesê dit is dié eerste ongeluk in 33 jaar van hul maatskappy se bestaan waarin mense hulle lewens verloor het. Sy het namens die eienaars medelye op hul Facebook-blad uitgespreek aan almal wat vriende en familie in die ongeluk verloor het.

Volgens Matome Moremi, woordvoerder van die departement van vervoer in Limpopo, het 25 insittendes wat in ’n 22-sitplek Mercedes-minibus gereis het, op die toneel gesterf. Dié mense se name is nog nie bekend gemaak nie. Die minibus was van Limpopo na Tembisa in Gauteng onderweg. ’n Tweede voertuig, ’n ligte bakkie, het aan die brand geslaan, maar die insittendes kon betyds uit die voertuig ontsnap.

Pierre en Erika Bantjes van Polokwane wat in die derde voertuig, ’n Ford Everest, was, is ook albei op slag dood. Wrakstukke van hul voertuig het besaai oor die padoppervlak gelê. Die egpaar was op pad Pretoria om hul twee kinders, wat onder-skeidelik in Afrikaans Hoër Seunskool en Afrikaans Hoër Meisieskool is, te gaan haal vir die naweek. Zulithe is in gr. 11 en Altus in gr. 8.

Pierre is ’n oudleerder van Hoërskool Hans Strijdom en was in 1993 in matriek.

“Hy was ’n topatleet en die tweede beste seunspiesgooier van die Hansies die afgelope 30 jaar,” het Dirk Oosthuizen, afrigter van die Hansies, aan Die Pos gesê.

Talle vriende en geliefdes het met groot skok op die egpaar se Facebook-blad gereageer.

“Rus sag mooie mense… rus sag by Jesus se voete,” het een daarvan gelui.

Volgens Hercules Louw van Mookgophong en Arrie Opperman, verkeershoof van die dorp, wat albei op die ongelukstoneel was, was dit ’n afgryslike toneel.

“Ek was daar toe hulle van die mense uit die voertuie gesny het, maar kon op ’n stadium nie meer kyk nie,” het Louw aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button