Local newsNews

Bekende sakeman van Mookgophong sterf in motorongeluk

Shawn het skielik hard gerem en toe van agter teen ’n tientonvragmotor gebots.

Shawn Fouché (40), ’n bekende sakeman en eienaar van Electroshaw in Mookgophong, is op Saterdag 20 Oktober in ’n motorongeluk op die N1-snelweg sowat 10 km van die Vaal-tolplaza oorlede.

Fouché en Henco Bernardt, ’n vriend en werknemer, was op pad terug van Kaapstad toe die ongeluk ongeveer 05:00 gebeur het. Hulle het die vorige Sondag Kaap toe gegaan waar Fouché elektriese werk by ’n klerefabriek in die stad gedoen het. Volgens Bernardt het hulle die werk op Vrydag 19 Oktober voltooi en ongeveer 16:00 in die pad geval terug huis toe.

Fouché het ’n Mercedes Vito-bussie gery wat ingerig was met ’n werkwinkel. Volgens Bernardt, wat geslaap het, het Shawn skielik hard gerem en toe van agter teen ’n tientonvragmotor gebots. Die vragmotor was glo op pad na De Deur en het vee vir ’n plaaslike veiling vervoer.

Bernardt, wat nie veel van die ongeluk kan onthou nie, het aan Die Pos gesê die persoon wat eerste op die toneel stilgehou het, het aan hom gesê die vragmotor het nie agterligte gehad nie, maar dit kon nie bevestig word nie.

“Ek het hom gevra om die ambulans te bel, want my vriend lyk nie goed nie,” het hy gesê.

Bernardt het sy selfoon aan die man, wat anoniem wil bly, gegee en hy het die ambulans ontbied. Bernardt het daarna sy meisie en Shawn se pa gebel en hulle oor die ongeluk ingelig. Fouché se pa, Piet, wat in Germiston bly, het hom na die ongelukstoneel gehaas, maar was te laat om sy seun te groet.

Volgens Bernardt het Shawn nog geleef nadat hulle die vragmotor getref het en het die ambulans eers ’n uur en ’n half later opgedaag.

Fouché se pa het sy seun dood aangetref waar hy steeds in die voertuig vasgepen was. ER24 se paramedici het Fouché op die toneel dood verklaar.

Bernardt het gesigbeserings opgedoen en sterk tans tuis in Mookgophong aan.

Die saak word deur die Barrage-polisie ondersoek. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

Fouché laat sy twee seuns, Dylan (10) en Justin (7), na. “Sy kinders was sy lewe,” het Bernardt gesê.

Related Articles

Back to top button