Local newsNews

Werkers pak klippe voor skoolhekke oor loongeskil

Ondersteuningspersoneel van Hoërskool Warmbad het op Donderdag 11 Oktober buite die skool betoog en aangedring op ’n 25%-salarisverhoging.

Die betogers het tydens die betoging klippe voor die skoolhekke gepak, maar nadat die polisie opgedaag het, is die klippe verwyder. Die werkers word deur die nasionale onderwys-, gesondheids- en verwante werkersunie (Nehawu) verteenwoordig.

Paul Liddle, skoolhoof, het by navraag gesê hoewel die skool 48 uur vóór die betoging in kennis gestel is van die planne, was niemand die Donderdag by die skool om die werkers aan te hoor nie.

Die departement van onderwys het die skool vooraf in kennis gestel om op dié Donderdag opleiding te ondergaan om hulle voor te berei op wat voorlê met die naderende eindeksamen. Leerders en ouers is vooraf in kennis gestel dat geen onderrig op dié dag sou plaasvind nie, het Liddle gesê.

Die skool is baie dankbaar teenoor Paul Prinsloo, lid van die beheerliggaam, wat die betogers se probleme aangehoor het, het Liddle gesê.

Die betogers was op Vrydag 12 Oktober weer terug voor die hekke. Die leerders en onderwysers was ook Vrydag terug by die skool.

As deel van die reëls is die betogers aangesê om geen geraas te maak terwyl hulle betoog nie, waaraan hulle voldoen het, het Liddle gesê. Verder het die betoging vreedsaam verloop en niemand se lewe is in gevaar gestel nie.

Onderhandelinge het reeds plaasgevind en hul salarisse is aangepas om met ongeveer 9% verhoog te word, waarmee die werkers tevrede was, het Liddle gesê.
Die werkers het op Maandag 15 Oktober teruggekeer werk toe.

Related Articles

Back to top button