Local newsNews

Uitsonderlike blom trek aandag in Modimolle-tuin

Die ongewone plant is na ’n seekat vernoem danksy sy blare wat krul en herinner aan die tentakels van dié seediere.

’n Eienaardige plant in een van die tuine in Bosveldsig, Modimolle, trek menige verbyganger se aandag.

Dié soort sisalplant is ’n seekat agave oftewel octopus agave in Hester Coertze se tuin het die afgelope twee maande ’n ellelange blomsteel uitgestoot wat hoog bo die tuinmuur uitloer.

Die ongewone plant is na ’n seekat vernoem danksy sy blare wat krul en herinner aan die tentakels van dié seediere. Volgens die webwerf World of Succulents word die plante gewoonlik 1,2 m hoog en blom eers ná tienjarige ouderdom.

Dit is ’n geharde, waterslimplant wat nie geneig is tot siektes nie en is afkomstig uit Meksiko. Die uitsonderlike blom is ongelukkig ook die plant se swanesang, want dié plante is monokarpies, wat beteken dat dit afsterf nadat dit geblom het.

“Dit is ’n groot jammerte dat die plant nou sal vrek,” het Coertze gesê. “Ons hoop maar dat ons kleiner plantjies daarvan af sal kry en dan weer kan plant.” Coertze het gesê sy het tien jaar vantevore in die huis ingetrek, maar dat die plant na raming so 20 jaar oud kan wees.

Related Articles

Back to top button