Local newsNews

’n Passie vir blink motors (én motorfietse) uit toeka se dae

Sy groot liefde vir motors het ná die Tweede Wêreldoorlog begin toe motors baie skaars was en hy sy pa gehelp het om motors vir mense te herstel.

Blink motors uit toeka se dae is toegegooi met lappe om te sorg dat die stof nie vergader nie en met die aftrekslag kan ’n mens byna elke sproet op jou neus raaksien in die spieëlbeeld van die blinkgevryfde enjinkap.

Harry Hart se versameling veteraanmotors en –motorfietse is sy passie. Hy het al 85 winters agter die blad en is nog lank nie gereed om “oud” te wees nie. Die Pos het by hom ’n draai gaan maak waar hy by Die Oog Aftreelandgoed buite Mookgophong woon om te gaan gesels oor sy spoggerige versameling.

Hart is op 25 Januarie 1933 in Cradle Park noord van Johannesburg, gebore en het daar grootgeword. Hy het sy skoolloopbaan in Bethal in Mpumalanga voltooi. Ná skool het hy sy ambag as passer en draaier begin en onder meer in die Durbanse hawe aan skepe gewerk. Daarna het hy sy eie motoringenieurswerke-onderneming in Randburg begin.

Sy groot liefde vir motors het ná die Tweede Wêreldoorlog begin toe motors baie skaars was en hy sy pa gehelp het om motors vir mense te herstel. Hy het ’n versameling van Amerikaanse en Engelse motorfietse.

“My eerste motor was ’n 1934 Chevrolet — ’n oop motor met ’n seildakkie. Hy was nogal baie interessant vir daardie tyd. Ek moes mooi met my pa praat om te help, want die voertuig se ewenaar moes vervang word en ek was maar net ’n vakleerling wat 12 sjielings en ’n sikspens verdien het,” het hy laggend aan Die Pos vertel.

Hy het in 1956 met Sannie Pieterse getrou en hulle het vier dogters, wat almal nou ook in die Mookgophong-omgewing woon. Hy het in 2010 by Die Oog gaan woon en het ’n plasie gekoop waar hy sy versameling stoor. Hy ry graag met sy motorfietse en is steeds ’n lid van die Krugersdorp-klub.

Die bekende versamelaar, Johann Rupert, het een van Hart se motors wat hy opgebou en gerestoureer het — ’n 1934 Ford Coupé — by hom gekoop. Dié pronkstuk is deel van Rupert se versameling veteraanrygoed op ’n wynplaas buite Franschhoek.

’n Bloedrooi 1957 Chevrolet, wat as die “Step side” bekendstaan, is deur een van Hoërskool Hans Strijdom se matrikulante gebruik vir vanjaar se matriekafskeid.

“As daar iemand is wat belangstel in restourasie, sal ek graag raad gee en help waar ek kan,” het hy gesê. Een van sy skaars motorfietse is ’n rooi Harley Davidson wat die polisie in 1947 gebruik het om die koninklike familie op hulle besoek aan Suid-Afrika te begelei. “My pa het by die staatsmotorhawe gewerk en het een van die Daimlers bestuur, wat die gesin moes rondry en daarom weet ek van die motorfietse. Daar was net tien en ek het nou een van hulle,” het hy trots vertel.

Hy het die motorfiets in Randburg opgespoor waar dit baie jare onder ’n moerbeiboom gestaan het. “Toe ek hom daar uitsleep, het hy nog sy sirene aangehad,” het Hart vertel.

Hy het in 2017 vir vyf dae saam met die Krugersdorp-klub op ’n toer gegaan tot by Springbok in die Noord-Kaap en toe die Weskus deur terug na Gauteng.

Hart is egter nog nie klaar met motors en motorfietse nie en beplan om nog ’n paar toere mee te maak.

Related Articles

Back to top button